Ariana Grande-bloedbad: Selfmoordbomaanvaller se naam bekend

Argieffoto: Ariana Grande

Die Islamitiese Staat (Isis) het Dinsdag beweer een van sy “soldate” is verantwoordelik vir die dodelike aanval tydens die popster Ariana Grande se konsert in die Manchester Arena in Engeland Maandagaand waartydens 22 mense in ʼn bomontploffing dood is.

Konst. Ian Hopkins, Manchester se polisiehoof, het die 22-jarige Salman Abedi bekend gemaak as die moontlike selfmoordbomaanvaller, maar wou geen verdere inligting oor hom verskaf nie.

ʼn Senior Europese intelligensiebeampte het gesê die aanvaller was ʼn Britse inwoner met ʼn Libiese aksent.

Isis se bewering kom midde ʼn grootskaalse ondersoek deur Britse owerhede om te soek na nog moontlike medepligtiges ná een van die ergste terrorisme-aanvalle wat die land in meer as ʼn dekade beleef het.

Isis het geen verdere inligting oor die aanvaller bekend gemaak nie.

Die groep se semi-amptelike nuusagentskap, Amaq, het vroeër in ʼn verklaring gesê die ontploffings was die gevolg van ploftoestelle wat tussen die skare by die arena geplaas is. Die verklaring beweer egter 70 mense is beseer en 30 mense is in die aanval dood. Die Britse owerhede het bevestig dat 22 mense in die aanval dood is en 59 beseer.

Isis het gesê die aanval is uitgevoer om “god se geloof te wreek” en om niegelowiges te terroriseer en te vergeld vir hul aanvalle teen die lande van Moslems. Die terreurgroep het beloof om nog aanvalle uit te voer.

Die Britse polisie bevestig nog ʼn man (23) is in verband met die bomaanval in hegtenis geneem. Die polisie het gesê hy is by die stad se Arndale-winkelsentrum aangekeer, maar “daar word nie tans vermoed dat hy met gisteraand se aanval verbind word nie”. Volgens berigte is die winkelsentrum Dinsdagoggend vlugtig ontruim.

Maroela Media het vroeër berig die ontploffing het omstreeks 22:30 deur die arena geruk kort nadat die Amerikaanse sangeres Ariana Grande opgetree het. Die skare was glo besig om die arena te verlaat toe dit gebeur het. Talle video’s is later op sosiale media gedeel waarin gesien kan word hoe mense huilend en skreeuend uit die arena hardloop.

Theresa May, die Britse premier, het die voorval vroeër as ʼn “afskuwelike terreuraanval” bestempel. Sy beplan om Manchester Dinsdag te besoek, terwyl Andy Burnham, die stad se burgemeester, beplan om 18:00 vanaand ʼn nagwaak vir die slagoffers te hou.

Die polisie het vroeër gesê van die oorledenes is kinders, onder wie Saffie Roussos, ʼn agtjarige meisie. Altesaam 12 van die beseerdes is kinders onder 16 jaar.

“Dit is een van die ergste terreurvoorvalle wat ons nog ooit in die Verenigde Koninkryk gesien het,” het May gesê. “Hoewel dit nie die eerste keer is dat Manchester op so ’n manier moes ly nie, is dit die ergste aanval wat die stad nog ooit ervaar het en die ergste wat die noordelike gedeelte van Engeland nog getref het.”

Talle leiers van oor die hele wêreld, onder wie Wladimir Poetin, Rusland se president, Angela Merkel, Duitse kanselier, en pous Franciskus, het hul medelye met Brittanje betuig.

Pres. Donald Trump van die VSA het die mense agter die aanval “bose verloorders” genoem. “Ek sal hulle nie monsters noem nie, want hulle sal van daardie term hou,” het hy gesê. Hy het voorts gesê so baie “jong, mooi mense” het hul lewe in die sinnelose aanval verloor.

Grande het ook Dinsdag op Twitter reageer en gesê sy is “gebroke” deur die nuus van die groot sterftal. “Ek kan met my hele hart sê, ek is so, so jammer. Ek het nie woorde nie,” het sy op Twitter gesê. Sy is nie in die aanval beseer nie.

Sy het die res van haar toer gekanselleer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

Boerseun ·

‘n Hele beweging gebaseer op godsdienstige geloof en sienings. Dis nie die eerste godsdienstige groep wat oorlog voer en terreur saai nie.
Wanneer gaan die mensdom verlos word van die waan oor gode en sogenaamde voordele wat geloof in gode bied, soos ‘n ewige lewe? Of die vrees vir ‘n hel? Wanneer gaan die mensdom besef dat gode soos Allah, Brahmaan, Elohim, Horus, Jehowa, Jupiter, Krishna, Rahman, Shaddai, Yahweh of Zeus en al die duisende ander net mensgemaakte idees is? Gelukkig is beskaafde, ontwikkelde en intellektuele Europeërs besig om hierdie bygelowe af te skud.

Marius ·

Boerseun, in sekere opsigte is jy reg. Geloof kan waarlik manipulerend wees en aangewend word. Selfs die Christelike geloof is en was al baie misbruik. Maar Jesus het self gesê dat Hy dit vir kindertjies sal gee en dat die slimmes en ingeligtes hul rug daarop sal draai. Dis tragies dat jy sin aan jou lewe wil gee deur saam met die slim en ingeligtes te wil stem. Niks wat jy doen maak eintlik dan meer sin nie en moraliteit is dan bloot opinie van elke mens. Dan kan selfs die kinderverkragter maar sê wat hy doen sal in elk geval oor ‘n miljoen jaar nie saak maak nie, omdat sy weergawe van moraliteit sy reg is. Jou geloof sê dat jou oerouers mekaar doodgeslaan het vir oorlewing, maar dat die mens nou morele waardes moet hê, asof moraliteit nou skielik uit die niet verskyn het. Jy staan op dryfsand.

Skepties ·

Inderdaad, Boerseun. Dit is hoogtyd dat die mensdom hierdie bygelowe en fantasië in die stof los waar hulle hoort.

Anne ·

Maruis jy het dit nou baie mooi saamgevat. Ons ontvang soveel seeninge daagliks, hoe kan ons twyfel.

Allan ·

Amerika, Engeland, Frankryk, Duitsland en Israel moet dalk uit die Middle Ooste bly.

Hulle het al alles vernietig in Irak, Iran, Afganistan, Libia, Yemen, en nou Siria en Somalie. Dit is om beheer te kry oor die lande olie bronne, olie en gaspylyn, om die Petro dollar in stand te hou en wapen te verkoop.

60%+- van die stedelike geboue is al vernietig. Wat moet die mense doen in ‘n oorlog geteistered gebied wat daagliks met bomme bestook word. Bv onder Obama se administrasie tydperk is daar 51,000 bomme in die midde Ooste afgeskiet.

Maw hoe kan die mense werk, wat moet hulle doen en waar moet hulle gaan bly.

Natuurlik gaan hulle na Europa verhuis, want daar is nie ander veilige blyplek nie. Die probleem is die mense koerster ‘n wrok teen die lande wat hulle lande vernietig. Maw die bom ontplofings in Europa gaan nie eindig nie. Dit is ‘n oog vir ‘n oog situasie.

Die terreur sal aanhou totdat Amerika en sy vernoot lande hulle buitelandse beleid verander en ophou om ander lande onwettig binne te val – my opinie. Dit gaan nie malik gebeur nie, want daar is baie geld in oorlog bv Trump het nou net met Saudi Arabia ‘n wapen kontrak van $350 biljoen (+-R4,6 triljoen) gesluit.

Gerhard ·

Israel is in die Midde Ooste. Hulle kan nie daar uit bly nie. Boonop is die idee dat al daardie lande “uit die Midde Ooste bly” onsinnig. Die probleme sou nog erger gewees het as wat dit nou is as die Weste nie in die verlede opgetree het nie.

Uncle Buck ·

Boerseun, ek wonder maar net vir wie sê jy dankie vir jou seëninge en reën wat op jou plaas val, indien jy ‘n boer is, of dalk net vir al die guns wat jou pad langs kom. Dalk as jy ‘n studie maak sal Yahweh vir jou meer betekenis kry.

Boerseun ·

Dit reën op my plaas omdat die son op die oseane skyn, water verdamp, deur die winde gedra word en dan kondenseer om reëndruppels te vorm. Jy het nie ‘n bonatuurlike mag hiervoor nodig nie. Die weerpatrone gaan hulle gang al vir duisende jare of Oom Buck nou voor Allah, Adonai of wie ook al kniel of nie.

Kapenaar ·

Boerseun……. ek is bevrees, jy is in vir ‘n helse verrassing!!!! sterkte!

Callie ·

Gee nie om of vir geloof of watter rede ookal. Om onskuldige kinders so te vermoor. Miskien is dit tyd om hierdie lande wat isis en ander rerreurgroepe ondersteun plat te vee niks oor te los nie.

Ben Prinsloo ·

Ek wil nou nie vir iemand party trek nie maar ek lees in Efesiërs 4 van slegs EEN GELOOF, EEN DOOP en EEN GOD EN VADER……….. ek wonder hoeveel gelowe, dope en GOD EN VADER is daar vandag?

Nico K ·

Allan, jy het die kat aan die stert beet. Die oorloë sal in elkgeval plaasvind al was die weste nie betrokke nie. Die Moslems maak groot oorlog onder mekaar ook. Daar is ook mos mense wat beweer die gevegte tussen verskillende groepe in Afrika is net daar omdat hulle deur Westerse kolonialisme aangeblaas is.

jaco ·

selfs al laat brittanje AL die moslem refugees wat by hulle grense staan in die land toe, sal dit steeds dekades en selfs eeue vat om net deur immigrasie in die land n moslem meerderheid te kry. en sendingwerk deur die moslems wat reeds daar bly, sal ook nie juis werk nie. Die meeste mense is nie eens meer christene nie. hulle gee nie om oor godsdiens nie en baie is atheiste. goed wat sonde is in islam en met die dood strafbaar is, soos voorhuwelikse seks, homoseksualiteit, eet van varkvleis, is alles wettig en aanvaarbaar. Blaas dan maar liewer die aftog, los Brittanje uit en besluit bloot dat dit n land “beyond redemption” is. Maar om hulle dood te maak oor hulle “sonde” is verregaande en onnodig. Snaaks dat die land se regering nie sien watse hidden agenda die moslems het nie. Eks n leek en ek sien dit raak en ek bly nie eens daar nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.