Aristokraat-model sterf onverwags

Stella Tennant. (Foto: Patrick Kovarik, AFP)

Stella Tennant, een van die bekendste loopplankmodelle en voorbladsterre van die negentigerjare, is Dinsdag in die ouderdom van 50 oorlede.

“Dit is met groot hartseer dat ons die onverwagse dood van Stella aankondig,” het haar familie in ʼn verklaring gesê. “Stella was ʼn wonderlike vrou en ʼn inspirasie vir ons almal. Sy sal baie gemis word.”

Tennant is by haar huis in Duns in die Scottish Border-distrik dood. Die polisie het gesê daar is geen verdagte omstandighede rondom haar dood nie.

Tennant het vir van die voorste modehuise soos Chanel, Versace en Valentino gewerk. Die afgelope paar jaar was sy steeds aktief by die modelwêreld betrokke.

Die Britse Vogue het in ʼn huldeblyk geskryf dat sy die laaste keer in 2018 op die voorblad van die tydskrif verskyn het. Sy het vir die eerste keer in 1993, op die ouderdom van 22, op die voorblad van dié tydskrif verskyn.

Tennant was ook deel van die Britse aristokrasie. Sy was die kleindogter van Deborah Mitford, die hertogin van Devonshire wat in 2014 oorlede is. Sy was getroud met David Lasnet, ʼn Franse fotograaf wat later ʼn osteopaat geword het, en die egpaar het vier kinders saam.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.