Arnold Palmer – gholf se ‘grootste ambassadeur’ sterf

Arnold Palmer reageer ná 'n sethou op Augusta (April 2013) Foto: Matt Slocum / AP

Arnold Palmer reageer ná ‘n sethou op Augusta (April 2013) Foto: Matt Slocum / AP

Die legendariese Amerikaanse gholfspeler, Arnold Palmer, is Sondag in die ouderdom van 87 in Pittsburgh, Pennsylvania, oorlede, het die Amerikaanse Golfvereniging bevestig.

Hy is in die UPMC Presbyteriaanse hospitaal oorlede waar hy sedert Donderdag harttoetse ondergaan, het die Pittsburgh Post-Gazette berig.

Palmer, ook bekend as “The King”, het sewe groot kampioenskappe gewen tydens sy loopbaan, wat in die 1950’s begin het. Hy was een van die 13 oorspronklike name wat in die World Golf Hall of Fame in 1974 opgeneem is.

Hy het ʼn lojale aanhangersbasis gehad, genaamd “Arnie’s Army”, danksy sy ongelooflike spel, persoonlikheid, goedhartigheid en onbaatsugtigheid.

Hy het nooit die PGA-kampioenskap gewen nie, maar het drie keer in die twee plek geëindig.

Palmer, tesame met Jack Nicklaus en Gary Player, word wêreldwyd beskou as dat hulle in die 1960’s gholf “vir die massas” gewild gemaak het.

Palmer het die laaste keer in 1994 aan die Amerikaanse Ope deelgeneem, wat hy in 1960 gewen het, en in 1995 die laaste keer aan die Britse Ope, ʼn titel wat hy twee keer verower het. Hy het in 2002 sy 147ste en finale rondte op Augusta gespeel. “Ek dink dis tyd. My gholf is maar power die laaste ruk en dit regverdig nie dat ek hier speel nie,” het hy as 72-jarige aan verslaggewers gesê.

Ná sy aftrede het Palmer betrokke gebly met gholf, en het oorsigtelik opgetree tydens die jaarlikse Arnold Palmer Invitational; hy is die enigste lewende speler wie se naam aan ʼn PGA-geleentheid gekoppel is, het Golfweek gesê.

Hy het die twee hoogste burgerlike eerbewyse in Amerika ontvang – die “Congressional Gold Medal” in 2012 en die presidensiële medalje van vryheid in 2004.

Hy was ʼn uitnemende sakemand, bekende advertensiewoordvoerder, vaardige vlieënier en ʼn talentvolle gholfbaanontwerper.

Sy gesondheid het in 2015 begin agteruitgaan, het Golfweek bygevoeg.

Sy laaste openbare gholfhou was ʼn seremoniële sethou verlede jaar tydens die Britse Ope. .

“Dankie Arnold vir jou vriendskap, raad en baie lag. Jou filantropie en nederigheid is deel van jou legende. Dis moeilik om aan gholf te dink sonder jou of enigiemand belangriker vir die spel as die King,” het Tiger Woods op Twitter geskryf.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Francois ·

Hartseer nuus. Nog ‘n grote verlaat ons maar laat ‘n groot nalatenskap agter. Tesame met Jack Nicklaus en Gary Player het hulle ongelooflik baie gedoen om gholf te bevorder.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.