Assange vir borgtogoortreding gevonnis

Julian Assange, stigter van WikiLeaks, word weggelei by die hof waar hy verskyn het op aanklag dat hy sy borgtogvoorwaardes oortree het (1 Mei 2019). (Foto: Matt Dunham/AP)

ʼn Britse hof het Woensdag vir Julian Assange, stigter van WikiLeaks, 50 weke tronkstraf opgelê nadat hy sy borgtogvoorwaardes verbreek het deur na die Ecuador-ambassade in Londen te vlug om inhegtenisneming vry te spring.

“Die erns van jou oortreding, met die versagtende aspekte in ag geneem, regverdig ʼn vonnis van byna die maksimum,” het regter Deborah Taylor aan Assange in die Londense Southwark Crown-hof gesê.

Taylor het gesê sy het mediese getuienis in ag geneem oor “die geestelike en fisieke uitwerking daarvan om ʼn uitgerekte tydperk in die ambassade deur te bring”, asook ʼn brief waarin Assange om verskoning vra en berou oor sy dade uitspreek.

Die 47-jarige Australiër is verlede maand in hegtenis geneem ná Ecuador besluit het om die politieke asiel te herroep wat byna sewe jaar gelede aan hom toegeken is. Assange is gevolglik skuldig bevind vir sy versuim om homself aan die Britse owerhede oor te gee in verband met ʼn lasbrief wat in 2010 uitgereik is rakende aanklagte van seksuele aanranding in Swede.

Julian Assange, stigter van WikiLeaks, word weggelei by die hof waar hy verskyn het op aanklag dat hy sy borgtogvoorwaardes oortree het (1 Mei 2019). (Foto: Matt Dunham/AP)

Assange het in 2012 na die ambassade gevlug nadat hy ʼn regsgeding oor sy uitlewering aan Swede verloor het. Die aanklagte teen hom is later laat vaar, maar Assange het steeds vir sewe jaar binne die gebou gebly uit vrees dat hy aan die Amerikaanse owerhede oorhandig sal word om tereg te staan op aanklagte wat verband hou met sameswering om ʼn Pentagon-rekenaar te kuberkraak.

Ecuador se president, Lenin Moreno, het uiteindelik Assange se asiel herroep weens “herhaaldelike oortredings van internasionale konvensies en daaglikse lewe”.

Taylor het tydens haar vonnisoplegging gesê Assange sal vir parool in aanmerking kom wanneer hy minstens die helfte van sy vonnis uitgedien het en indien hy nie in die tyd skuldig bevind word aan enige ander oortredings nie. Dit beteken hy kan om en by begin Oktober vrygelaat word.

Betogers buite die hof waar Julian Assange, stigter van WikiLeaks, verskyn het op aanklag dat hy sy borgtogvoorwaardes oortree het (1 Mei 2019). (Foto: Matt Dunham/AP)

Assange, wat onskuldig gepleit het dat hy sy borgtogvoorwaardes oortree het, het in ʼn brief aan die hof om verskoning gevra aan die mense “wat voel ek het hulle nie respekteer nie”.

“Ek het destyds gedoen wat ek gedink die beste is of dalk die enigste ding is wat ek kon doen,” het hy gesê.

WikiLeaks het Assange se vonnis as “skokkend en wraaksugtig” bestempel. “Ons is baie bekommerd of hy ʼn regverdige uitleweringsverhoor in die VK sal ontvang,” het WikiLeaks getwiet.

ʼn Aparte verhoor oor Assange se uitlewering aan die VSA sal vandag begin. Assange is van plan om sy uitlewering teen te staan.

Betogings ter ondersteuning van Assange sal na verwagting vandag in Londen, Berlyn en Parys plaasvind, insluitend ʼn “Ons is almal Julian Assange”-geleentheid by die Brandenburghek in Berlyn.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Andreas ·

Die wêreld het ‘n speelveld vir uitdrukking van eiebelang geword, vandaar die vonnis.

Donderstorm ·

Hy ht menseregte skendings uitgebring wat deur vsa soldate gepleeg is in die midde ooste gewys wat daar gebeur ht bv soos hul se colateral damage ens hy is n doring in die vlees van baie mense in die vsa hy sal seker nog gedeporteer word aan die vsa een way is om n doring in jou vlees te deskriditeer sy naam te beswadder sodat hy later lyk of hy die grootste vark op aarde is amper soos ons eie steve hofmeyer.

Domvraag ·

Hoe pleit jy onskuldig as jy jou borgvoorwaardes nie nakom nie en dan in n ambassade gaan wegkruip.
Elke dag beleef ons die aanslag van kuberkrakers wat jou epos hack en jou bankbesonderhede probeer bekom. Hoop hy sit lank .

En nou? ·

Het jy enige idee waaroor hierdie gaan? Ek stel voor jy gaan lees bietjie op!

Thys Muller ·

Hy het niemand benadeel nie, net die skandes van die demokrate oopgevlek

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.