Audi-hoof vas oor uitlaatgas-skandaal  

Rupert Stadler. Foto: Bloomberg photo by Pau Barrena.

Die uitvoerende hoof van Audi, wat deur Volkswagen besit word, is Maandag in hegtenis geneem op aanklag van bedrog wat verband hou met die Duitse motorvervaardiger se uitlaatgas-skandaal.

Rupert Stadler (55) is in hegtenis geneem ʼn week nadat sy huis deursoek is en Duitse aanklaers gesê het hy is die fokus van hul ondersoek na ʼn gekonkel rakende Audi se uitlaatbeheer. Stadler is die eerste lid van Volkswagen se uitvoerende raad om in hegtenis geneem te word rakende die ondersoek na die geknoei met uitlaatgasse.

Dit het in 2015 aan die lig gekom dat Volkswagen sagteware gebruik om uitlaatgasse te verlaag tydens toetse om resultate te manipuleer. Volgens Duitse aanklaers is Stadler in hegtenis geneem uit vrees dat hy sal inmeng by die ondersoek.

Mark Clothier, ʼn woordvoerder van Audi, het Stadler se inhegtenisneming bevestig maar wou nie verder kommentaar lewer nie.

Volkswagen het drie jaar gelede aangekondig dat tot soveel as 11 miljoen van sy voertuie sagteware bevat wat misleidend kan wees in uitlaatgastoetse, insluitend tot soveel as twee miljoen Audi’s. Die maatskappy het skuldig gepleit aan bedrog in die VSA en moet $25 miljard betaal aan boetes en vergoeding.

Martin Winterkorn, die voormalige uitvoerende hoof van Volkswagen, het bedank nadat die motorvervaardiger erken het hy gebruik die sagteware.

Winterkorn (70) is verlede maand van sameswering en bedrog aangekla rakende die saak. Volgens die klagstaat het Winterkorn met ander uitvoerende lede van Volkswagen saamgespan om die VSA te bedrieg en vir klante te jok.

Winterkorn is glo in Duitsland en daar word nie verwag dat hy uitgelewer sal word nie. Minstens ses ander uitvoerende lede van Volkswagen word in die VSA aangekla.

Volkswagen is verlede week in Duitsland met €1 miljard beboet omdat daar nie toesig was oor die werknemers wat die toetssagteware ontwerp het nie. Die Duitse regering het Audi verlede jaar daarvan beskuldig dat hy met sy uitlaatgastoetse gekul het. Audi is versoek om sowat 24 000 van sy A7 en A8-modelle wat tussen 2009 en 2013 vervaardig is, terug te roep.

Stadler het in 1990 by Audi aangesluit en is in 2007 as uitvoerende hoof aangestel. Hy is in 2017 sowat €5 miljoen betaal, volgens Volkswagen se jaarverslag.

 

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Eish ·

Die wat die bastion van leierskap, integriteit, verantwoordelikheid en hoë morele waardes moet wees, faal klaaglik.
Wys jou net, moenie jou vertroue in mense stel nie, nooit nie! Dan is jy soos n kaal bossie n woestynwêreld.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.