Die Australiese krieketster wat geveg het om sy plek in die Aussies se toetsspan te herwin, Phil Hughes, is in ’n hospitaal in Sydney oorlede.
Krieket Australië het op Twitter aangekondig dat die masjiene wat Hughes aan die lewe gehou het, afgeskakel is. “Ons is bitter hartseer om aan te kondig dat Phillip Hughes in die ouderdom van 25 oorlede is.”
Hughes was sedert Dinsdag in ‘n geïnduseerde koma nadat hy tydens die wedstryd tussen Nieu-Suid-Wallis en Suid-Australië teen die kop geboul is, en per helikopter hospitaal toe geneem is.
Vroeër is berig die bouler wat Hughes neergevel het, Sean Abbot, was ’n goeie vriend van Hughes en voel bitterlik sleg oor die voorval. Ander spelers herinner hom daaraan dat hy bloot sy werk as snelbouler gedoen het.
Die voorval is as ʼn fratsongeluk beskryf. Beeldmateriaal toon dat Hughes sy kop gedraai het net voor hy getref is, en dat die bal hom toe net agter die oor teen die skedelbasis getref het. Dit is ʼn besonder kwesbare area.
Nie die grootste krieket fan of ondersteuner van Australiese sport nie, maar nog steeds jammer om dit te hoor. Dit is sad, maar hopelik ‘n wakkerword roep na ons almal, wat krieket gespeel het, op skool en waar ookal, en kaalkop gaan kolf het. Ek besef nou eers watse kans ons gevat het. Ons het beskerming op ander plekke gehad, ja, maar helmets? Nooit.
Sjoe, nooit gedink krieket is SO gevaarlik nie; eers onse Mark Boucher wat amper heeltemal sig in sy een oog verloor het en nou hierdie! Dis erg en mens voel sleg dat iemand moet gaan terwyl hy ‘n gesonde jongman was.
Ek is ‘n baie groot krieket ondersteuner. Geen wedstryd ter wereld is so hard, as SA teen Aus nie. My hart gaan uit na die Phil se familie, vriende, spanmaats en almal wat hierdeur geraak word. Hy was ‘n briljante kolwer en op die randjie om weer vir sy nasionale span te speel. Hy het ‘n blink loopbaan voor hom gehad. Baie keer dink ons die “verpligte” veiligheids toerusting is ‘n mors van tyd, en nou sien ons die teendeel.
Die vervaardigers van die helm het ook gese dat hy nie met hul nuutste helm gespeel het nie. Het hulle hier deur erken dat die een waarmee hy gespeel het, onveilig is?