Aussie kritiek na opslagbal

Phillip Hughes in 2013 tydens 'n eendagwedstryd tussen Indië en Australië Foto: indian-cricket-team-updates.blogspot.com

Phillip Hughes in 2013 tydens ‘n eendagwedstryd tussen Indië en Australië Foto: indian-cricket-team-updates.blogspot.com

Die bekende Australiese openingskolwer Phil Hughes, verkeer in ’n kritieke toestand in die hospitaal na hy in ‘n Sheffieldskild-wedstryd teen die kopskerm geboul is.

Hughes, wat veg om sy plek in die Australiese krieketspan te herwin, het op die eerste dag op 63 lopies vir Suid-Australië teen sy ou span, Nieu-Suid-Wallis gestaan toe hy ’n kort bal van die mediumsnelbouler, Sean Abbot, probeer haak het. Die bal het die kopskerm egter met ’n siek geluid getref. Volgens beeldmateriaal het Hughes se oë verwilderd gestaan, voor hy gesig eerste op die grond neergeslaan het.

Mond tot mond-asemhaling is op hom toegepas om hom weer te probeer laat asemhaal. Hy is later per ambulans na ’n hospitaal geneem waar hy met sy aankoms reeds op lewensondersteuning was. Daar is besluit om te opereer om die drukking te verlig. Hughes verkeer nou in ’n geïndusseerde koma.

Die wedstryd is afgelas.

BBC Sport berig dat die spelers wat saam met Hughes op die veld was, berading sal ontvang.

Masuri, die Britse vervaardiger van die kopskerm, het intussen bevestig dat Hughes nie die nuutste weergawe van die kopskerms gedra het nie. Die besturende direkteur het aan Hughes en sy familie al sy sterkte toegewens. Hulle sal ook beeldmateriaal van die wedstryd ondersoek om te bepaal waar presies die bal hom getref het.

Hughes se kanse om weer die toetsspan te haal is as taamlik goed beskou na die Australiese kaptein en baie goeie vriend van Hughes, Micheal Clarke, beseer is. Hy het reeds in 26 toetse vir Australië gespeel met ’n gemiddelde telling van meer as 32 lopies. Sy hoogste toetstelling was 160 lopies. Sy swakheid teen kort balle het hom na berig word sy plek in die span gekos.

Hughes word wêreldwyd vir sy aangename persoonlikheid geloof.

Hughes het ook reeds 25 eendagwedstryde vir die Aussies gespeel.

Bron: Cricket Info, BBC Sport

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Kobus ·

As ek dit reg het, is dit die eerste berig wat ek oor die kopskerm wat gedra is, lees. Verder wat interessant is, is dat bykans elke speler wat deersdae teen die kop geboul word en wat ons op TV gesien het, het of neergeslaan, of het ‘n besering aan die gesig en mond opgedoen.

Daar is dit nie genoem hoe oud die kopskerm is en of dit die “nuutste” op die mark is nie. Die maklike verweer is soos in hierdie geval, “dit was nie die nuutste op die mark nie!”

Waarom dan nie die “oues” wat nie effektief is nie, van die mark onttrek nie? Waarom nie spelers in die ligas verplig om kopskerms te dra wat aan ‘n sekere standaard voldoen nie. Ek dink net die mense en beamptes, ook die kapteins en die afrigters het dit nie erns met die spelers se veiligheid nie.

Almal hardloop mos deesdae van hul aanspreeklikhede weg. Hughes was dan juis verdag onder die kort bal.

Dit het my al voorheen laat wonder oor hoe velig die kopskerms van krieketspelers werklik is. Dit is my submissie dat dit is maar oëverblindey om te glo dat dit werklik effektief is, dalk vir so ‘n skrams balletjie teen die kop verby.

Hierdie is nie die eerste speler wat ernstig deur ‘n bal teen die kop beseer is nie en sal dit nie die laaste wees nie. Al wat mens kan hoop, is dat mense met nuwe oë na hierdie geval na die vervaardigers se kopskerms sal kyk en hul aanspreeklik sal hou. Moet iemand na ‘n kopbesering eers dood neer slaan? Hierdie is ‘n “wakeup call’ oor kopskerms wat al lankal sluimer.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.