Aussie-voortvlugtige ná 12 jaar vasgetrek

Graham Potter is ná 12 jaar op vlug deur die Australiese polisie vasgetrek. (Foto: Queensland-polisie / 7News)

Graham Potter, een van Australië se mees gesoekte misdadigers, is Maandag ná meer as ’n dekade op vlug in ’n plattelandse dorp in die verre noorde van Queensland in hegtenis geneem.

Die Australiese nuusblad The Age berig dat die 64-jarige Potter danksy ʼn wenk van die publiek by ʼn huis in Ravenshoe vasgetrek is. Potter, wat onder meer op aanklag van sameswering om moord te pleeg teregstaan, ontwyk die Australiese polisie al 12 jaar. Hy sal na verwagting Dinsdag in die Mareeba-landdroshof verskyn.

“Dit bring ’n einde aan ’n lang, uitgerekte soektog na ʼn voortvlugtige wat vir baie, baie ernstige strafregtelike aanklagte gesoek word,” het waarnemende assistentkommissaris Mick Frewen aan The Age gesê.

Graham Potter is ná 12 jaar op vlug deur die Australiese polisie vasgetrek. (Foto: Queensland-polisie / 7News)

Die polisie is sedert 2010 op soek na Potter, ʼn veroordeelde moordenaar, nadat hy destyds versuim het om vir ʼn hofverskyning op te daag.

Hy word daarvan beskuldig dat hy gehuur is om ʼn man by die berugte onderwêreldfiguur, Mick Gatto, se seun se troue te vermoor.

Potter staan ook tereg op federale aanklagte van dwelmhandel van meer as 440 miljoen Australiese dollar (meer as R4 miljard) in Augustus 2008.

’n Foto van Graham Potter wat in 2017 deur owerhede aan die media verskaf is. (Foto: Victoria-polisie / AAP / 7News)

Hy het boonop reeds 15 jaar agter tralies deurgebring vir die verminking van en moord op Kim Barry, ʼn vrou van Nieu-Suid-Wallis in 1981.

7News berig dat Potter bekend is daarvoor dat hy vermommings gebruik het om omgesiens in Australië rond te beweeg. Sy vermommings sluit pruike, vetpakke en skuilname in.

Die polisie het in 2019 ʼn reeks foto’s uitgereik wat by ʼn kampterrein geneem is waar Potter vermoedelik weggekruip het. Verskeie wapens is by dié wegkruipplek ontdek asook handgeskrewe aantekeninge wat uiteensit hoe Potter die polisie suksesvol ontduik het.

Volgens The Age sal speurders van Victoria in die suidooste van die land Maandag na Queensland in die noordooste van Australië vertrek om ʼn hofaansoek vir Potter se uitlewering aan die polisie in Melbourne te bekom.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Botterblommetjie ·

Flippen amazing…. !!!! Ek hoef seker niks oor ons land en polisiemag by te voeg nie….

piet ·

As die Australiese polisie met so baie moordsake soos hier te doen het, sal hulle nie ‘n glue he wat aangaan nie. Selfs met hul min moordsake sukkel hulle om hierdie ou wat reeds vir 12 -jaar op vlug is te vang. Nou nie juis spoggerig nie.

Bernard ·

Australië het nie landdroshowe nie. Bly by hof of lyk amateuragtig

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.