Australië: $20 miljoen binne 48 uur ingesamel

‘n Brandbestryder Sondag naby Burrillmeer in Australië. (Foto: Rick Rycroft, AP)

’n Fondsinsameling vir Australiese brandweerdienste het meer as 20 miljoen Australiese dollar binne 48 uur ingesamel te midde van die verwoestende brande wat tans in dié land woed.

BBC berig Celeste Barber, ’n plaaslike komediant, het ’n beroep op sosiale media gedoen om fondse in te samel vir brandbestryders nadat haar familie noodgedwonge hul huis in Eden in Nieu-Suid-Wallis moes verlaat.

Geld het kort daarna ingestroom en sal nou aan onder meer die Nieu-Suid-Wallis-brandweerdiens gaan. Verskeie bekendes het hul beursies oopgemaak vir die tragedie wat tans in Australië afspeel, onder andere die Australiese en Amerikaanse aktrise Nicole Kidman wat 500 000 Amerikaanse dollar geskenk het.

Brandbestryders Sondag naby Burrillmeer in Australië. (Foto: Rick Rycroft, AP)

Sowat 200 veldbrande woed tans in die land met tienduisende mense wat kusdorpe moes verlaat het. Meer as 1 200 huise is reeds in puin gelê.

Maroela Media het vroeër berig minstens 23 mense is dood sedert die eerste brande in September verlede jaar uitgebreek het.

Canberra se luggehalte word ook tans as een van die swakste ter wêreld bestempel.

Die lug in Red Beach in Whangaparaoa in Nieu-Seeland. (Foto: Willem Coetzee)

Sonja Botha, ’n Suid-Afrikaner in Hamilton in Nieu-Seeland, sê aan Maroela Media dat die brande selfs dié land se luggehalte beïnvloed met rook wat van Australië af oorbeweeg.

“Ons het [die naweek] bewolkte weer gehad, maar met ’n geheimsinnige rooi skynsel,” sê Willem Coetzee, ’n Suid-Afrikaner wat tans in Whangaparaoa, ʼn voorstedelike gebied noord van Auckland, Nieu-Seeland, woon.

Stuart Branch van die Wêreldnatuurlewefonds (WWF) het aan Sky News gesê ’n miljard diere kan moontlik in die verwoestende brande omkom, met talle wat selfs ná die brande geblus is in die komende weke sal doodgaan. Dit sluit soogdiere, voëls, reptiele, vlermuise en insekte in.

“Diere wat deur die brande kom, sal in die volgende weke en maande aanhou sterf weens dehidrasie, hongersnood en siektes. Hulle gaan ook makliker prooi vir wilde katte en jakkalse wees,” het hy gesê.

“Byna die hele Australiese natuurlewe is goed aangepas om normale bosbrande te hanteer, maar hierdie is nie normaal nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

1 Kommentaar

jongste oudste gewildste
jean

So ongeloooflik hartseer!!!!!! Mag God die land genadig wees….