Australië beleef eerste resessie in byna 30 jaar

‘n Klerewinkel gaan toemaak in Sydney, Australië.(Foto: AP Photo/Rick Rycroft)

Australië se ekonomie het te midde die Covid-19-pandemie vir die eerste keer in byna drie dekades in ʼn resessie verval.

Die Australiese Buro vir Statistiek (ABS) het Woensdag bekend gemaak dat Australië se ekonomie tydens die tweede kwartaal (April tot Junie) met 7% ingekrimp het.

Dít is die grootste inkrimping op rekord sedert 1959 en volg ná ʼn inkrimping van 0,3% tydens die eerste kwartaal (Januarie tot Maart), berig BBC.

’n Land se ekonomie word as in resessie beskou wanneer hy negatiewe ekonomiese groei vir twee agtereenvolgende kwartale beleef.

Hoewel Australië die enigste groot ekonomie is wat ʼn resessie tydens die wêreldwye finansiële krisis van 2008 vrygespring het, het dié land se ekonomie aan die begin van die jaar gebuk gegaan onder verwoestende veldbrande, waarna die koronavirus kop uitgesteek het.

‘n Kantoorblok staan Woensdag toe in Sydney, Australië. (Foto: AP Photo/Rick Rycroft)

Die land se ekonome het egter ’n inkrimping van 5,9% in die tweede kwartaal verwag.

“Ons het alles moontlik gedoen om die slag van Covid-19 vir die Australiese gemeenskap af te weer,” het tesourier Josh Frydenberg Woensdag in Canberra gesê.

“Ons prioriteit was en is die red van lewens, asook om te verseker dat Australië se gesondheidsorgstelsel Covid-19-gevalle kan opspoor en behandel.”

Australië het vir 29 jaar ekonomiese groei getoon deels weens China se belangstelling in die land se hulpbronne soos ystererts en steenkool. Die twee lande se verhouding het egter onlangs versuur nadat Australië vir ’n ondersoek na die oorsprong van Covid-19 gevra het, berig CNN.

Australië se ekonomie is nie enigste ekonomie wat die aanslag van die pandemie voel nie. Lande soos Kanada, Frankryk, Duitsland, Italië, Japan, die Verenigde Koninkryk en die VSA se ekonomieë het almal in die eerste helfte van 2020 ’n inkrimping beleef.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Fritz ·

Dis nou wat gebeur wanneer regerings dink 5% van die bevolking se lewens is belangriker as die ander 95% se finansies. Geld was, is en sal altyd belangriker wees as menselewens.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.