Australië nou deur stof- en haelstorms getref

‘n Stofwolk Sondag oor die dorp Dubbo. (Foto: Ian Harris, AP)

Stofstorms, hael en kitsvloede het die afgelope paar dae in Australië voorgekom wat brandbestryders ’n effense blaaskans gee, maar ander nooddienste nou weer laat bontstaan.

Die Australiese hoofstad Canberra het Maandag onder ’n haelstorm gebuk gegaan met skade wat aan verskeie ondernemings, huise en motors aangerig is. Elektrisiteit is weens kitsvloede in verskeie voorstede afgesny en talle bome is ontwortel. Minstens twee mense is beseer.

’n Rooi stofwolk van sowat 300 km wyd en stormsterk winde van 107 km per uur het intussen op droogtegeteisterde dorpe soos Dubbo, Broken Hill, Nyngan en Parkes neergedaal. Dié stof kom vermoedelik van plase in Nieu-Suid-Wallis.

‘n Stofwolk Sondag oor die dorp Dubbo. (Foto: Ian Harris, AP)

Haelkorrels het Sondag ook groot skade in Melbourne aangerig met nog hael wat in die komende dae hiér verwag word. Ongewone sterk storms het gelei tot kitsoorstromings oor die naweek in Brisbane en aan die Goue Kus in die deelstaat Queensland net noord van Nieu-Suid-Wallis.

Dié staat is oor die afgelope paar maande in puin gelê weens die verwoestende brande. Die brande het sedert September minstens 28 lewens geëis, meer as 2 600 huise in puin gelê en miljoene hektaar verwoes.

Onlangse wydverspreide reënval in Nieu-Suid-Wallis en Victoria help tans in Australië se twee mees bevolkte state, maar brande is steeds nie heeltemal geblus nie.

Die plaaslike owerhede het in werklikheid gewaarsku dat die brandgevaar vandeesweek in albei state sal toeneem met stygende temperature.

Haelkorrels so groot soos gholfballe het Maandag buite die parlementsgebou in Canberra geval. (Foto: Rod McGuirk, AP)

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Andre ·

Goeie genade ! Maar die land loop nou ongelooflik deur onder die natuur… Dis baie erg.Hoop en bid dat hulle verligting sal kry.

skurweberg ·

Is hierdie natuurverskynsel ‘n toevalligheid wat aan die hand van weertendense verklaar kan word? As die antwoord Ja is jy en ek iemand wat aan toevalligheid glo.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.