Australië se ‘Swart Somer’ duur voort

‘n Veldbrand Saterdag by Bumbalong, suid van Canberra. (Foto: Rick Rycroft, AP)

Die Australiese eerste minister, Scott Morrison, het die verwoestende brande wat reeds meer as vier maande in Australië woed as ’n “Swart Somer” vir dié land gedoop.

Meer as 30 mense is sedert September dood met tientalle brande wat steeds verwoesting in drie state saai, waaronder een aan die buitewyke van Canberra.

Morrison het Dinsdag tydens sy eerste parlementsrede van die jaar gepraat oor die afgelope paar maande se verwoesting en verlies weens die brande.

“Hierdie is die swart somer van 2019-’20 wat ons nasionale karakter en ons vasberadenheid bewys het,” het Morrison gesê.

“Hierdie brande woed op baie plekke nog steeds, maar ons is vandag saam om te treur, te eer, te besin en te leer uit die Swart Somer wat voortduur.”

Brandbestryders Saterdag naby Michelago, suid van Canberra. (Foto: Rick Rycroft, AP)

Australië het in die verlede veldbrande name gegee op grond van die naam van die dag of die omgewing waar dit plaasgevind het, soos die Swart Donderdag van 1851, Aswoensdag van 1983 en die Swart Saterdag van 2009, maar nog nooit is daar ’n naam vir ʼn hele seisoen van verwoesting gegee nie.

Veldbrande kom jaarliks ​​in Australië voor, maar wetenskaplikes en brandweerowerhede meen die omvang van die vlamme tydens dié brandseisoen was ongekend. Veldbrande het ook hierdie seisoen vroeër as voorheen in al ses state en twee gebiede begin woed.

Meer as 12 miljoen hektaar het reeds afgebrand, 3 000 huise is vernietig en meer as ’n miljard diere sal waarskynlik dié seisoen omkom.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Leon ·

Australië moet die blare en gras onder hulle bome verwyder. Dit help om bosbrande te beheer. Bosbou in Suid Afrika hou die grond skoon onder die bome en hulle kan baie vinniger ‘n bosbrand onder beheer kry. Die weghol veldbrande is alma aangevuur deur gras en blare onder die bome. Feite.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.