Australië-vloede: Dodetal styg; tienduisende moet ontruim

Vloedwater in Richmond, Sydney. (Foto: Muhammad FAROOQ/AFP)

Die dodetal weens die weeklange verwoestende vloede wat Australië se ooskus getref het, het tot 20 gestyg.

Die liggame van ’n man en ’n vrou is Dinsdag in vloedwater in Sydney gevind. Die polisie het gesê dit word vermoed die liggame is die van ’n vermiste ma en seun wie se motor in ’n stormwaterkanaal gevind is.

Tienduisende inwoners van Sydney is aangesê om hul huise te ontruim na hewige storms en kitsvloede wat dele van Australië se grootste stad oorstroom het.

Die nasionale weerburo het gewaarsku “’n moeilike 48 uur” lê vir Sydney voor, met 60 000 mense wat onderhewig is aan ontruimingsbevele en -waarskuwings in die geraakte gebiede.

Hewige reënval oor Sydney het brûe en huise oorstroom en motors is deur vloedwater meegesleur.

Die Manly-dam, in die noorde van die stad, het Dinsdag begin oorloop, met 2 000 inwoners in dié gebied wat aangesê is om te ontruim.

In die Georges Hall-woonbuurt moes die nooddienste en polisie motoriste red wat in hul motors gestrand was weens die stygende vloedwater.

Dit is die tweede week van hewige reën en vloedwaarskuwings is Dinsdag vir die hele 2 000 km-kuslyn van Nieu-Suid-Wallis ingestel.

“Dit is die ekwivalent van die ‘Swart Somer’-bosbrande,” het Phil Campbell, woordvoerder van die nooddienste, aan AFP gesê.

Die omvang van die skade aan eiendom en natuurlewe is soortgelyk aan dié van die verwoestende bosbrande wat die ooste van Australië maande lank laat in 2019 en vroeg in 2020 geteister het.

“Ons sien ook ’n soortgelyke uitwerking op gemeenskappe in terme van ontwrigting met paaie wat gesluit is, infrastruktuur wat beskadig is en kragonderbrekings,” het Campbell gesê.

Nooddienste is in die afgelope 24 uur na meer as 100 vloedverwante voorvalle ontbied en dit sal na verwagting toeneem.

In die noordelike uithoeke van Nieu-Suid-Wallis waar vloedwater vandeesweek huise vernietig het, motors weggespoel het en honderde plaaslike inwoners op hul dakke gestrand gelaat het, is ’n lang, moeisame skoonmaakproses aan die gang.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Robert ·

Ek het verneem die regering het probeer om met die weer te speel, to boomerang dit effe.

Samuel ·

Baie hartseer storie. Sterkte aan die burgers van Australië.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.