Australië: Vuurwerke gaan voort al woed brande

Vuurwerke op 1 Januarie 2018 by Sidney se Operahuis. (Foto: Xinhua/Bai Xuefei)

Sidney se ikoniese vuurwerkvertoning gaan vanjaar met Nuwejaar voort, ten spyte van die krisis wat die land tans ervaar weens wydverspreide bosbrande. Dit, sê eerste minister Scott Morrison, moet die land se stabiliteit wys.

Intussen het die land se owerhede hulself Sondag gestaal vir verslegtende toestande te midde van hoë temperature. Altesaam nege mense het reeds die afgelope paar maande as gevolg van die brande gesterf en 1 000 huise is verwoes.

“Die wêreld se oë is jaarliks op Sidney se vuurwerke en hulle sien ons dinamiek en ons sukses daarin,” het Morrison gesê. “Te midde van die uitdagings wat ons tans in die gesig staar, kan ek aan geen beter geleentheid dink om vir die wêreld te wys hoe optimisties en positief ons is nie. Mits dit nie enige gevaar vir ons inhou nie.”

Sidney se stadsraad het die groen lig vir die vuurwerkvertoning gegee al het owerhede vroeër gewaarsku dit kan moontlik gekanselleer word indien ramptoestande verklaar word.

Vuurwerke op 1 Janurie 2017 by Sidney se Operahuis. (Foto: AP Photo/Rick Rycroft)

Morrison het voorts finansiële steun beskikbaar gemaak vir sommige vrywillige brandbestryders in Nieu-Suid-Wallis, die staat wat die ergste deur die brande geraak word. Volgens die eerste minister sal brandbestryders 300 Australiese dollar (amper R3 000) per dag ontvang. Die geld sal grotendeels beskikbaar gestel word aan mense wat vir hulself werk of klein en mediumgrootte besighede het.

“Die feit dat die brande vroeër as gewoonlik uitgebreek het en so lank al voortduur, het meer druk as gewoonlik op ons vrywillige brandbestryders geplaas,” het Morrison gesê.

Sean Warren wat die afgelope sewe jaar as ʼn vrywillige brandbestryder optree, sê baie mense neem tyd van hul werk af of gebruik hul jaarlikse verlof om brande te help bestry. “Baie mense mis ook hul gesinne en het Kersfees saam met hul kleinkinders misgeloop om die brande te bestry; so dit is regtig ʼn groot opoffering wat hulle maak,” sê hy.

Die vergoeding van vrywilligers sal Australië ongeveer AU$50 miljoen (ongeveer R489 miljoen) uit die sak jaag en die eerste AU$10 miljoen sal reeds in Januarie beskikbaar gestel word.

Hoë temperature word hierdie week in die weste van dié land verwag en die kwik sal Dinsdag na verwagting tot 44 °C styg.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.