Australiër deur troetel-kangaroe doodgemaak

Argieffoto (Foto: Penny/Pixabay)

ʼn Wilde kangaroe is vermoedelik verantwoordelik vir ʼn 77-jarige man se afsterwe. Hy het die kangaroe as ʼn troeteldier aangehou, het die polisie in Australië Dinsdag gesê. Dit is na bewering die eerste noodlottige kangaroe-aanval in 86 jaar.

ʼn Familielid het Sondag afgekom op die man, wie se naam nie bekendgemaak is nie. Hy het “ernstige beserings” opgedoen op ʼn eiendom in die ylbevolkte suidelike dorp Redmond in westelike Australië.

“Die man is vermoedelik vroeër in die dag deur die kangaroe aangeval,” het ʼn woordvoerder van die polisie gesê. ʼn Ambulans is na die toneel ontbied, maar die man is dood verklaar.

“Daar was ʼn kangaroe op die perseel wat die paramedici verhoed het om by die beseerde man uit te kom.” Volgens die polisie moes hulle die kangaroe skiet “omdat dit ʼn voortgesette bedreiging ingehou het vir nooddienste”.

Die kangaroe was vermoedelik ʼn wilde dier wat die man as ʼn troeteldier aangehou het, het die polisie bygevoeg. Alhoewel dit nie bekend is watter spesie kangaroe dit was nie, kom die westelike grys-kangaroo (Macropus fuliginosus), in dié streek voor. Volwasse mannetjies kan tot 2,2 meter lank word en tot 70 kg weeg.

Plaaslike media berig die laaste noodlottige aanval deur ʼn kangaroe was in 1936. In daardie voorval het die Sydney Morning Herald berig dat ʼn 38-jarige man, William Cruickshank, in ʼn hospitaal in Nieu-Suid-Wallis oorlede is maande ná hy aangeval is. Hy wou twee honde teen ʼn groot kangaroe beskerm. Hy het ʼn gebreekte kakebeen en kopbeserings opgedoen.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

ES ·

Kan net my kop skud wanneer mense dink wilde diere kan as troeteldiere aangehou word. Soos die vrou wat ‘n troetel sjimpansee aangehou het en hy haar toe aangeval en al haar vingers afgebyt het.

Hulle hoort in die wild.

Swerwer ·

Wilde diere hoort in die natuur en nie gevangenisskap in die mens se lewe nie.

Anna-marie ·

Daar is nie meer ‘n “natuur” of ‘n “wild” oor vir hulle op hierdie planeet nie. Mense het alles oorgevat.

Sandra ·

Sal ek wreed klink as ek se ek het geen simpatie met die man nie? Ek kry net die arme kangaroe jammer wat nou moes boet met sy lewe. Hy het nie gevra om aangehou te word nie. Dit verbaas my dat mense nog dink wilde diere kan aangehou word as troeteldiere.

Danny ·

En weereens moet die natuur boet vir menslike, idiotiese ideale… tragies! Wilde diere is nie troeteldiere nie!!!!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.