Australiërs gewaarsku teen ‘dodelike spinnekoppe’ na vloede

‘n Tregterspinnekop. (Foto: Die Australiese Reptielpark )

Australiërs is Woensdag teen ’n “plaag” van die wêreld se giftigste spinnekoppe gewaarsku na die swaar reën en oorstromings wat die land oor die naweek beleef het.

Die Australiese Reptielpark waarsku nou dat spinnekoppe skuiling in huise kan probeer vind om die vloedwater te ontsnap.

Swaar reën het onlangs erge oorstromings in die staat Nieu-Suid-Wallis tot gevolg gehad met dele van die voorstedelike noordweste van Sydney wat steeds onder water is.

Inwoners het Woensdag eindelik met sonskyn wakker geword, net om ’n “dringende waarskuwing” teen die toestroming van die dodelike tregterspinnekop te ontvang wat endemies is in die Sydney-streek.

“Warm weer en hoë humiditeitsvlakke in die komende dae is die perfekte kombinasie vir ’n toestroming van tregterspinnekoppe,” het die direkteur van die Australiese Reptielpark, Tim Faulkner, in ’n verklaring gesê.

Faulkner sê dié spinnekoppe is weens die oorstromings in die Sydney-omgewing uit hul habitat gedwing. Die spinnekoppe sal nou skuiling in droër gebiede soek.

“Ongelukkig kan dit beteken dat hulle binnekort in huise sal skuiling soek.”

Sydney se tregterspinnekop word wyd gevrees en is berug vir hul vinnigwerkende gif. Altesaam 13 sterftes weens die byt van dié spinnekop is in die land se geskiedenis aangemeld. Niemand het egter na wat verneem word weer gesterf sedert ’n teengifprogram in die vroeë 1980’s geïmplementeer is nie.

Die Australiese reptielpark moedig diegene aan wat “veilig voel om dit te doen” om dwalende tregterspinnekoppe te vang en na aangewese versamelingsfasiliteite te neem.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Ansie ·

Klein regstelling: Die Australiese Reptielpark melk die spinnekoppe (en giftige slange) en stuur dan die gif na die laboratorium waar teengif vervaardig word. Hulle verskaf nie self die teengif nie.

Megan Swart ·

Dagsê Ansie
Ons vra om verskoning vir die verwarring. Die artikel is gewysig.
Dankie! Groetnis
Megan
nms Maroela Media

Noels244 ·

My vel kriewel net om hierdie te lees, ek sterf tien dode. Hulle moet solank voorraad opbou van Doom.

Sêmanet ·

Die Australiese reptielpark moedig diegene aan wat “veilig voel om dit te doen” om dwalende tregterspinnekoppe te vang en na aangewese versamelingsfasiliteite te neem.
Ek voel veiliger met ‘n spinnekop onder die skoensool… Hierdie is ‘n kwessie van hy of ek.

Andre ·

Jy sal moet vinnig en hard slaan … hulle is vinnig en staan op hul agterpote, reg om te byt, as jy nader kom. Maar anders as ander spinnekoppe verkies hulle om buite te bly. Ek maak die red backs dood, maar sal die, soos hulle victoria ewekniee, maar net uitsit buite. Interrsant is dat die Daddy Long legs hulle vang.

minniemuis ·

Oh wow Andre…se my is dit waar dat die Daddy Long legs baie giftig is maar kan joou nie byt nie

PATRICIA ·

Hulle moet liewer se “Maak dit dood” Hoe kan mens sulke lewens gevaarlike spinnekoppe wil bewaar.

Keith ·

After being bitten twice by poisonous spiders in my life, and suffered the consequences, the only good spider is a dead one. I don’t waste time (anymore) trying figure out if it’s a “safe” one.

Roedolf Johannes ·

Tiepes mense wil alles net altyd doodmaak,net soos met slange of hy giftig is of nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.