Australiërs nou ook in afsondering

Die verlate strate van Barcelona, Spanje. (Foto: AP /Emilio Morenatti)

Australië het Sondag alle nie-noodsaaklike dienste in groot dele van die land opgeskort en die land se grense is gesluit ten einde die verspreiding van die koronavirus (Covid-19) in dié land te keer.

Die getal Covid-19-gevalle wat in dié land aangemeld is, het tussen Vrydag en Saterdag van 1 043 tot 1 200 toegeneem. Sewe mense is reeds hier dood weens die virus.

Eerste minister Scott Morrison het aan verslaggewers in Canberra gesê alle reise wat nie absoluut noodsaaklik is nie, behoort afgestel te word. Gebiede met hoë vlakke van die koronavirus kan ten volle in afsondering geplaas word, wat beteken dat niemand buite hul huise toegelaat sal word nie.

Victoria en Nieu-Suid-Wallis, twee van die land se digsbevolkte gebiede, het reeds aangekondig dat alle ondernemings wat nie dringende dienste lewer nie, van Maandag af gesluit sal wees. Skole sal ook van Dinsdag af gesluit wees.

“Slegs apteke, supermarkte, petrolstasies en mediese sentrums sal toegelaat word om oop te bly. Afleweringsdienste word ook as noodsaaklik beskou,” het Gladys Berejiklian, premier van Nieu-Suid-Wallis, gesê.

Intussen het Spanje oornag 3 600 gevalle van Covid-19 aangemeld. Teen Sondag is 28 572 inwoners van Spanje positief getoets vir dié siekte. Altesaam 1 720 mense het reeds in Spanje daaraan gesterf. Inwoners van dié land is reeds ʼn week lank in afsondering geplaas. Italië is egter steeds die Europese land wat die hardste getref is, met 53 000 gevalle en 4 800 sterftes weens Covid-19.

Ander lande het verskeie vorme van noodmaatreëls ingestel om die verspreiding van die virus in te perk, terwyl die getal gevalle Sondag meer as 316 000 was, met 13 597 sterftes wêreldwyd.

  • Verskeie dele van Duitsland is in afsondering en in Berlyn mag nie meer as 10 mense op een plek bymekaarkom nie.
  • Tunisië het al sy inwoners aangesê om vir twee weke by die huis te bly. Nog net een mens is in dié land dood weens die virus.
  • In Dubai het die lugredery Emirates ongeveer 70% van sy roetes na ongeveer 100 lande afgelas. Vlugte na Beijing in China sal Maandag gestaak word.
  • Boris Johnson, eerste minister van Brittanje, het mense aangemoedig om nie Sondag familie-etes by te woon nie, ten spyte daarvan dat dié land vandag Moedersdag vier. “ʼn Besoek aan jou moeder kan dodelik wees vir jou ouers,” het Johnson gesê. Brittanje het reeds meer as 5 000 gevalle en 233 sterftes aangemeld.

Wil jy op hoogte bly van alle nuus oor Covid-19 op Maroela Media? Klik hier om in te teken op ʼn daaglikse nuusbrief.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Jaco ·

Daar is een ding wat my bekommer, op die coronavirus wereld meter wat al die statistieke weergee, dit lyk of Suid Afrika se gevalle die stadigste klim, amper stil staan in vergelyking met ander lande. Lande wat bv drie dae gelede minder gevalle gehad het as ons het bv vandag meer as dubbeld soveel gevalle as ons. Is ons regering absoluut puik in die voorkoming van die virus? Of word baie gevalle gemis?

Sonneblom23 ·

Ons land sal ook sulke drastiese stappe moet neem om te voorkom dat die virus hand uit ruk. As dit eers informele nedersettings tref, is ons in groot moeilikheid. Suid Afrikaners neem die virus glad nie ernstig op nie wat dit dan vir die res moeilik maak wat wel van hul kant af probeer.

Lizelle ·

Ek dink nie al die gevalle is al getoets hier in SA nie. Ek vermoed daar is meer. As ek na die kostes verbonde van die toets kyk dink ek nie mense kan dit bekostig nie

Cherokee ·

Dit blyk dat die Amerikaners ‘n antwoord gevind het in ‘n 50 jaar oue artritis kuur wat dus onmiddellik beskikbaar is en 100%(!) werk. Hopelik is dit nie fop-nuus nie want Oom Donald vertel dit self op die video-clip wat gesirkuleer word. Wonderlike nuus!

Jan ·

Sjoe maar julle skrik darem maklik vir koue pampoen…daar is dan nie een enkele begrafnis nie en nerens sien ek enige doodsberigte nie…is julle seker die politici belieg julle nie soos gewoonlik nie…

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.