Australiërs staal hulle vir nóg storms

Só het dit vandeesweek in die stad Grafton in Nieu-Suid-Wallis gelyk. (Foto: SAEED KHAN / AFP)

Nóg swaar reënbuie het Sondag in Australië se ooskus uitgesak nadat oorstromings en kitsvloede reeds die afgelope week groot verwoesting in die gebied gesaai het. Minstens 12 mense is dood, terwyl talle ander na veiligheid gebring moes word. 

Sondag se reën het ook opruimings- en herstelpogings deur vrywilligers gestuit. 

Maroela Media het vroeër berig dat swaar reën aanvanklik groot skade in Queensland aangerig het voordat die storm suidwaarts beweeg het. ’n Reeks vloedwaarskuwings is sedertdien in Nieu-Suid-Wallis uitgereik.

Die nasionale weerburo het teen nóg donderstorms en groot oorstromings in Queensland gewaarsku, terwyl kitsvloede vir Brisbane – wat sowat 2,6 miljoen mense huisves – voorspel word.

Swaar reën, groot haelkorrels en skadelike winde sal na verwagting verder suid in Nieu-Suid-Wallis uitsak, asook die dorp Lismore, wat verlede week rekordoorstromings gehad het. Talle mense moes ook gered word nadat vloedwaters hulle op hul dakke gestrand gelaat het.

Vloede vandeesweek in Queensland, Australië. (Foto: Twitter)

Die dodetal weens vloede in Nieu-Suid-Wallis staan ​​nou op vyf, nadat die liggaam van ’n man Saterdag gevind is.

Sommige inwoners het hulle tot sosiale media gewend om hul frustrasie met betrekking tot polisiëring en noodhulp op grondvlak uit te spreek. Dié inwoners meen daar word nie genoeg hulp deur hierdie owerhede met herstelpogings gebied nie.

Tom Wolff, wat ’n plaaslike liefdadigheidsorganisasie in Lismore bestuur, beweer dat hy Saterdag skenkings van insulien ingesamel het, wat eindelik deur ’n private helikopter aan diabetiese inwoners in die nabygeleë dorp Woodburn afgelewer is.

Die minister van verdediging, Peter Dutton, het Sondag die werk van sy departement verdedig en gesê hy is “absoluut tevrede met die verdedigingsreaksie”.

Hy het belowe dat daar in die komende dae 5 000 troepe vir bystand ontplooi sal word.

Wetenskaplikes sê klimaatsverandering maak Australië se vloede, bosbrande, siklone en droogtes meer gereeld en meer intens.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.