Australiese brande: 3 dood toe tenkvliegtuig neerstort

’n C-130 Hercules-tenkvliegtuig.. (Foto: RFS via AP)

Drie Amerikaanse bemanningslede is dood toe ’n C-130 Hercules-tenkvliegtuig Donderdag te midde van brandbestrydingspogings in die suidooste van Australië neergestort het.

Die vliegtuig, wat aan ’n Amerikaanse lugvaartmaatskappy behoort, het glo neergestort nadat dit vroeër vandag uit Richmond in Nieu-Suid-Wallis met brandbestrydingsmiddels vertrek het om ’n veldbrand naby die stad Cooma te help blus.

Gladys Berejiklian, premier van Nieu-Suid-Wallis, het aan plaaslike media gesê die landelike brandweerdiens in Nieu-Suid-Wallis het die vliegtuig se hulp ingeroep nadat veldbrande Woensdag te midde van hoë temperature weer opgevlam het.

Volgens Shane Fitzsimmons, kommissaris van die brandweer, is daar kort voor 13:30 kontak met die vliegtuig verloor. “Dit lyk asof daar tragies geen oorlewendes is nie as gevolg van die ongeluk in die Snowy Monaro-omgewing,” sê Fitzsimmons.

Daar is in die stadium geen aanduiding wat moontlik tot die ongeluk gelei het nie.

Brandbestryders blus Donderdag vlamme wat ‘n huis verswelg. (Foto: Noah Berger, AP)

Dié tragedie bring die dodetal sedert September op 31 te staan. Meer as 2 600 huise en meer as 10,4 miljoen hektaar is reeds verwoes.

’n Brand vanoggend naby die Canberra-lughawe het daartoe gelei dat dié internasionale lughawe noodgedwonge gesluit is. Die lughawe is intussen heropen hoewel slegs die Qantas-lugredery tans met ’n beperkte diens uitvlieg.

Inwoners van sekere voorstede van dié hoofstad is ook aangeraai om dié voorstede te ontruim.

Ander tenkvliegtuie wat aan dieselfde maatskappy behoort, is tans gegrond hangende ’n ondersoek na die ongeluk. Die C-130 Hercules-tenkvliegtuig kan op een slag meer as 15 000 liter brandbestrydingsmiddels vrystel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

3 Kommentare

jongste oudste gewildste
toy

Ai dit is hartseer.

Dirk

Kry vir julle A400M’s. Die C130’s is oud!