Australiese branderplankryer nog soek ná ‘grusame’ haai-aanval

Argieffoto ter illustrasie (Foto: Peter PARKS / AFP)

Die Australiese polisie was vroeg Woensdag steeds op soek na die liggaam van ʼn branderplankryer nadat hy vermoedelik in ʼn “grusame” haai-aanval dood is.

Die 55-jarige man het Dinsdagoggend in die water naby die gewilde branderplankryplek Granites Beach in die staat Suid-Australië verdwyn.

“Die man se liggaam moet nog gevind word en die soektog is vroeg vanoggend hervat,” het die plaaslike polisie vanoggend bevestig.

ʼn Ooggetuie, Ian Brophy, sê hy het gesien hoe ʼn reusehaai “net lanseer en byt” voordat die haai die man onder die water getrek het.

Brophy sê daar was “oral bloed”.

“Ek het hom in die golf gesien en die haai het sy liggaam in sy mond gehad – dit was nogal grusaam,” het hy aan die plaaslike koerant The Advertiser gesê.

Brophy sê dat die slagoffer se branderplank binne ʼn paar minute ál was om oor te bly.

“[Die haai] het elke stukkie van hom gevat, dink ek.”

Jeff Schmucker was onder diegene wat die water ingegaan het om die nooddienste te help soek na die branderplankryer se liggaam.

Hy het aan die nasionale uitsaaier ABC gesê die haai was “die lengte van ʼn sedanmotor”.

Grootwithaaie is bekend daarvoor om Suid-Australië se kuslyn te deurkruis. ʼn Onderwyser is in Mei vanjaar sowat 120 km van die plek van Dinsdag se aanval óók die slagoffer van ʼn haai-aanval.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Harley Davidson ·

Die kenners reken dan dat haaie mense net byt en los want hulle hou nie van die smaak nie ,hierdie voorval bewys nou hulle was verkeerd om te veralgemeen.

Rudolph ·

Jammer vir hom maar die haai het gedoen wat haaie doen. Mense wat hulle begewe in die haaie se domain moet die risiko aanvaar

Danie ·

Ek sukkel soms nogal om vir mense jammer te voel wat in die leeu/haai se gebied in loop/swem en gevolglik deur die leeu/haai opgevreet word. Jy is in hulle gebied. Jy is die oortreder. Hulle gaan jou aanval omdat jy ‘n baie maklike prooi is. Die ander prooi probeer hulle bes om uit hulle pad te bly. Jy kom op ‘n skinkbord reguit na hulle toe.

Maak altyd seker die gebied is veilig. Die roofdiere gaan jou aanval omdat jy so ‘n maklike prooi is.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.