‘Australiese krieket het nog ’n held verloor’

Die Australiese krieketster Andrew Symonds. Foto: Paul Ellis/AFP.

Australiese krieket is deur die dood van nóg ’n oudspeler geruk. Andrew Symonds is op die ouderdom van 46 in ’n motorongeluk dood.

Die ongeluk het gister net buite Townsville in Queensland plaasgevind en volgens oorsese mediaberigte het Symonds se voertuig gerol nadat dit die pad verlaat het. Hy was die enigste insittende.

Die hartseernuus volg net ’n paar maande ná die dood van krieketlegendes soos Rod Marsh en Shane Warne.

Symonds was in sy speeldae in 26 toetse en 198 eendagwedstryde vir die Aussies in aksie, terwyl hy ook twee keer die Wêreldbeker-trofee (in 2003 en 2007) omhoog gehou het.

In ’n neutedop was hy eintlik die perfekte voorbeeld van ’n aggressiewe veelsydige speler: bekend vir sy aanvallende kolfwerk, akkurate boulwerk en briljante veldwerk. Hy het in sy loopbaan met ’n paar uitstekende vangskote vorendag gekom.

Sedertdien stroom die huldeblyke in.

Suid-Afrika se Jonty Rhodes, wat saam met Symonds in die Indiese Premierliga werk, het die Australiër as ’n ongelooflike karakter beskryf.

“Andrew Symonds was ’n vurige teenstander en ’n ongelooflike spanmaat. Hy was waarskynlik die beste veelsydige veldwerker nóg,” het die Suid-Afrikaanse legende getwiet.

Volgens Michael Bevan (oudspeler en -spanmaat) het Australiese krieket nóg ’n held verloor.

“Ek is stomgeslaan. Hy was ’n baie talentvolle speler. Rus in vrede, Symmo.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.