Australiese ma amptelik kwytgeskeld na kinders se dood

Kathleen Folbigg (Foto: AFP/KATHLEEN FOLBIGG)

’n Australiese ma wat 20 jaar tronkstraf uitgedien het nadat sy skuldig bevind is aan die moorde op haar vier kinders, is Donderdag amptelik vrygespreek.

Kathleen Folbigg is in 2003 tronk toe nadat haar vier kinders tussen 1989 en 1999 skielik en sonder rede dood is.

Folbigg, wat eens as “Australië se ergste vrouereeksmoordenaar” bekend gestaan het, het meer as twee dekades hardnekkig geveg om haar onskuld te bewys, en is vroeër vanjaar kwytgeskeld nadat bevind is dat hulle aan natuurlike oorsake gesterf het.

“Vir amper ’n kwarteeu het ek ongeloof en vyandigheid ervaar. Ek het mishandeling in al sy vorme beleef,” het Folbigg Donderdag aan verslaggewers gesê nadat sy deur ’n Australiese hof vrygespreek is.

“Ek is dankbaar dat opgedateerde wetenskap en genetika my antwoorde gegee het oor hoe my kinders gesterf het,” het Folbigg tranerig bygevoeg.

Kathleen Folbigg en haar oorlede kinders. (Foto: ABC News)

Folbigg is skuldig bevind aan die moorde op drie van haar kinders, Patrick, Sarah en Laura, sowel as strafbare manslag in verband met die dood van haar seun Caleb. Die kinders was tussen 19 dae en 18 maande oud toe hulle dood is.

Die saak teen Folbigg het destyds sterk gesteun op haar gekwelde dagboekinskrywings, wat aanklaers beweer het skulderkennings getoon het. Sy is daaraan skuldig bevind dat sy die kinders versmoor het, ondanks ’n gebrek aan forensiese bewyse.

Wetenskaplike deurbrake in onlangse jare het egter aan die lig gebring dat die kinders seldsame genetiese mutasies en aangebore defekte gehad het wat tot hul dood gelei het.

Folbigg is vroeër vanjaar uit die tronk vrygelaat nadat sy ’n onvoorwaardelike kwytskelding van die goewerneur van Nieu-Suid-Wallis gekry het. Maar sy moes deur ’n afsonderlike regsproses gaan om haar skuldigbevindings amptelik deur die strafappèlhof in Nieu-Suid-Wallis om te keer

Folbigg se prokureur, Rhanee Rego, het gesê die besluit maak nou die deur oop vir ’n “wesenlike” eis om vergoeding.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Koen ·

Sjoe…20 jaar onskuldig in die tronk gesit. Dis baie erg. Hier by ons stap moordenaars na 7 jaar uit die tronk.

Karoo ·

Ek het hierdie storie gevolg, ek is dankbaar dat sy nou vry is, nie net het sy haar kinders aan die dood afgestaan nie, maar haar huwelik, haar familie…. en 20 jaar van haar lewe. Ek weet nie hoe ek sou gevoel het nafat ek 20 jaar in die dronk oorleef het nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.