Australiese soldaat verloor lastersaak oor ‘oorlogmisdade’

Ben Roberts-Smith se prokureur, Arthur Moses, verlaat die hof na die uitspraak. (Foto: Saeed Khan/AFP)

Een van Australië se mees gedekoreerde soldate het ʼn lastersaak verloor nadat bewerings van moord, gesinsgeweld, intimidasie van getuies en oorlogsmisdade tydens die verhoor aan die lig gekom het.

Ben Roberts-Smith, ʼn voormalige lid van Australië se uitgesoekte Special Air Service-regiment, het drie Australiese koerante gedagvaar nadat daar in 2018 berigte gepubliseer is wat beweer dat hy onder meer by die moord van ses ongewapende gevangenes in Afghanistan betrokke was.

Roberts-Smith het die bewerings ontken en ʼn multimiljoen dollar se lastersaak teen die koerante van stapel gestuur.

Ná twee jaar het regter Anthony Besanko beslis die koerante het bewys dat ʼn groot deel van die bewerings “wesenlik waar is”. Hy het die lastereis van die hand gewys.

Die uitspraak is as ʼn groot oorwinning vir mediavryheid in Australië bestempel, maar het die mediamaatskappye eindelik sowat $16 miljoen (sowat R318 miljoen) in regskoste uit die sak gejaag. Die koerante sal na verwagting op ʼn later datum “vrywaringskoste teen die aansoeker” eis.

Voor die verhoor was Roberts-Smith, gebore in Perth, een van Australië se bekendste soldate.

Hy is met die Victoria-kruis – Australië se hoogste militêre eerbewys – vereer vir sy “buitengewone dapperheid” in Afghanistan, waar sy eenheid op die spoor van ʼn senior Taliban-bevelvoerder was.

Hy het al vir wyle koningin Elizabeth II ontmoet en ʼn foto van hom het by die oorlogsgedenkteken in Canberra gehang.

Ben Roberts-Smith het selfs al die wyle koningin Elizabeth II ontmoet. (Foto: Anthony Devlin/Pool/AFP)

Verslaggewers by The Age, The Sydney Morning Herald en The Canberra Times het egter aangevoer dat ʼn patroon van misdadigheid agter Roberts-Smith se onkreukbare openbare beeld skuil.

Die koerante het aangevoer Roberts-Smith het ʼn ongewapende Afghaanse burger van ʼn krans afgeskop en sy ondergeskiktes opdrag gegee om hom te skiet.

Dit is ook beweer dat hy by die skietery van ʼn man met ʼn kunsbeen betrokke was en dat hy glo dié been na Australië teruggeneem het waar hy en ander soldate dit gebruik het om uit te drink.

Die veteraan is ook daarvan beskuldig dat hy gewelddadig was teenoor ʼn vrou in ʼn hotel in Canberra en dat hy ʼn “veldtog van afknouery” teen ʼn medesoldaat gevoer het. Dié bewerings is volgens die regter nie “heeltemal” bewys nie.

Altesame 40 mense het eindelik uitmergelende getuienis oor die gedrag van Australië se spesiale magte gelewer.

Roberts-Smith se verdediging is gedeeltelik gefinansier deur die eienaar van Seven West Media, ʼn mededinger van die drie koerante wat by die saak betrokke is.

Roberts-Smith was nie in die hof toe uitspraak gelewer is nie en is afgeneem waar hy in Bali vakansie hou.

Lang, bloederig oorlog

Australië het oor die afgelope twee dekades byna 40 000 soldate na Afghanistan gestuur as deel van die VSA en Nato se oorlog teen die Taliban en ander militantegroepe.

Met hul terugkeer, is die gedrag van sommige van die soldate skerp bevraagteken.

ʼn Interne militêre ondersoek wat in 2020 gedoen is, het bevind dat soldate 39 Afghaanse burgerlikes en gevangenes “onregmatig doodgemaak” het. Die ondersoek het bewerings van summiere teregstellings, kompetisies oor hoeveel mense doodgemaak is en marteling deur Australiese magte aan die lig gebring.

Australië is ʼn lid van die Internasionale Strafhof en dit beteken daar rus ʼn verpligting op die land om oorlogsmisdade te ondersoek en vermeende oortreders te laat vervolg.

Die VSA het Australië reeds gemaan dat ʼn versuim om bewerings van menseregteskendings te vervolg, tot ʼn beperking op militêre hulp en samewerking met die eenhede betrokke kan lei.

Onder toenemende druk het die regering eindelik ʼn spesiale ondersoeker aangestel om ondersoek in te stel of huidige en oudsoldate strafregtelik vervolg moet word.

Die proses het reeds tot “een aanklag van ʼn oorlogsmisdaad van moord” aanleiding gegee.

Plaaslike media berig dat Roberts-Smith een van die soldate is wat nog as deel van hierdie proses ondersoek word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Republikein in die Wes Kaap ·

Die soldaat moet nie sy voete hier sit nie. Hy sal vinnig inhegtenis geneem word en aan die strafhof uitgelewer word.

Treurwilger ·

Beweerde oortredings in oorlogsituasies moet deur die weermag ondersoek word, nié deur oorywerige, sensasiesoekende joernaliste nie.
En om dan boonop ‘n soldaat se privaatlewe by te sleep, klink regtig na ‘n heksejag.

Onnie ·

Ek sal nou seker gekruisig word, maar dit klink vir my na magshonger bullies wat die oorlog gebruik om hul eie siek fantasië uit te leef. Jy kry sulke ondewysers ook, daarom moes hulle die lat wegvat uit skole. Party ouens het hul self te buite gegaan en amper die laaites doodgeslaan – dit alles om van hul eie frustrasies ontslae te raak. Ek sê nie al die soldate/onnies is so nie, maar ek het al telke male gesien hoe mense hul magsposisies misbruik. Hierdie mnr Roberts-Smith, klink vir my na een van hulle.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.