Australiese vliegongeluk eis 4

Een van die vliegtuigwrakke. (Foto: Twitter/ 9News)

Vier mense is dood toe twee ligte vliegtuie Woensdag teen mekaar in die lug gebots het. Die ongeluk het naby ’n lughawe in Australië plaasgevind.

Die voorval het omstreeks 11:30 (Australiese tyd) naby die Mangalore-lughawe sowat 120 km noord van Melbourne in die Australiese staat Victoria plaasgevind.

Konst. Kendra Jackson van die Victoria-polisie sê in ’n verklaring nooddienste is na twee onderskeie ongelukstonele ontbied, nadat twee vliegtuie na bewering in die lug gebots en neergestort het.

Luidens inligting het omstanders gesien hoe die vliegtuie uit die lug val nadat hulle op 4 000 voet gebots het.

Die een vliegtuig het dadelik neergestort, terwyl die ander een ongeveer twee kilometer noord van die eerste wrak neergestort het. Die vliegtuie was reeds beskadig voordat dit neergestort het.

“Twee insittendes in elke vliegtuig is op die toneel dood,” sê Jackson. Die oorledenes moes uit die wrakke bevry word en is in dié stadium nog nie geïdentifiseer nie.

Volgens die Australiese burgerlugvaartveiligheidsowerheid (CASA) is een van die vliegtuie ʼn Piper PA-44 Seminole wat by ʼn plaaslike opleidingsentrum geregistreer is, terwyl die tweede ʼn Beech Travel Air D95A in private besit is.

Die owerhede het ʼn ondersoek van stapel gestuur.

Bronne: ANA, The Australian

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Gawie ·

Werklik hartseer!
Ek sou graag wou sien dat Maroela ons op hoogte hou met die ondersoek.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.