Baanbreker Joan Didion sterf op 87

Die Amerikaanse skrywer Joan Didion. (Foto: Jason Kempin / GETTY IMAGES NORTH AMERICA / AFP)

Joan Didion, Amerikaanse skrywer veral bekend vir haar essays oor die lewe in Los Angeles in die onstuimige 1960’s, is Donderdag in die ouderdom van 87 dood.

Sy is in haar huis in Manhattan, New York, aan Parkinson se siekte dood.

Didion se vroeë werk sluit in die 1968-opstelversameling Slouching Towards Bethlehem, The White Album, ’n opstelversameling wat op Los Angeles fokus, sowel as Play It as It Lays, ʼn roman oor die lewe in Hollywood.

Haar skryfwerk sluit ook vyf romans en ses draaiboeke in. Vir The Year of Magical Thinking (2005), ʼn besinning oor die dood van haar man, John Gregory Dunne, ʼn draaiboekskrywer, het sy wyd lof ontvang. Dié boek het ook in aanmerking gekom vir die Pulitzerprys.

Van dié boek is meer as ʼn miljoen eksemplare verkoop.

Haar memoir Blue Nights (2011) waarin sy skryf oor haar dogter Quintana Roo se dood, is deur die skrywer Christopher Hitchens as ʼn werk van “intense waardigheid en moed” bestempel.

Roo is op 39 minder as twee jaar ná haar pa se dood aan akute pankreatitis dood.

Didion word as ʼn baanbreker van die New Journalism-beweging vir literêre niefiksie bestempel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.