Baba en suster (5) deur familievriend in sekshandel verkoop

Argieffoto

ʼn Drie maande oue babadogtertjie en haar vyfjarige suster is vandeesweek deur die Amerikaanse federale speurdiens (FBI) in Denver in die VSA uit die greep van sekshandel gered.

Christopher Wray, ʼn FBI-hoof, het tydens ʼn perskonferensie gesê albei meisies is glo deur ʼn vriend van die familie vir $600 (net meer as R8 000) vir sekshandel verkoop.

Die meisies is gered as deel van die FBI se sogenaamde Operation Cross Country XI-veldtog wat vroeër in Oktober begin is. Dié veldtog het ten doel om sekshandel te ontbloot en om slagoffers te bevry.

Volgens Wray is 82 jeugdiges verlede week alleen deur die FBI gered. Meer as 120 mense is in verband met dié voorvalle in hegtenis geneem.

Wray het gesê die FBI se veldtog is egter nog ver van klaar aangesien dié speurdiens nog net die oortjies van die seekoei gesien het.

“Die getal sekshandelaars wat in hegtenis geneem is en jong mense en kinders wat uit die greep van sekshandel gered is, dui daarop dat die FBI se werk nog ver van klaar is. Voorvalle soos dié [van die twee susters] is hoekom ons hierdie belangrike veldtog moet voorsit.”

ʼn 16-jarige meisie is die afgelope naweek ook deur die FBI uit sekshandel gered nadat sy vir “volwasse vermaak” geadverteer is. Volgens ʼn geheime agent wou ʼn 21-jarige vrou haarself én die 16-jarige vir seks verkoop. Die 21-jarige vrou is in hegtenis geneem.

Wray sê die gemiddelde ouderdom van persone wat in sekshandel verkoop word, is 15. Hy sê die FBI kry daagliks te doen met sowat 24 voorvalle van sekshandel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Erick ·

Siek wêreld die. Dankbaar dat daar mense is wat teen die dinge baklei.

Theresa ·

Bly die FBI is so passievol om hierdie gemors te vang en die arme mense te verlos uit die greep van donker, donker dieptes. Het ons hier ook so ‘n taakmag – oortuig daarvan daar is soveel gevalle hier in ons land dat ‘n spesiale mag daarvoor nodig is.

Elize ·

@Theresa. Suid Afrika is ‘n bron, transito en eindbestemmingsland. Aanmeldings kan anoniem gedoen word deur 0800 222 777 te skakel. Hulle ondersoek en stuur ‘n gespesialiseerde taakmag uit om die slagoffers te red

dolphin ·

siek siek mense hoe kan dit so maak met baba en klein kindertjies?mense moet groot word en gaan soek werk .nie verkoop met die kids nie mense wil mos kids maak.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.