Baba in bibberweer gelos

Die pasgebore baba wat Vrydag in temperature van -20 °C in Siberië, Rusland, gevind is. (Foto: zdrav.nso.ru / The Siberian Times)

’n Pasgebore baba wat Vrydag in temperature van -20 °C in Siberië, Rusland, gevind is, sterk goed aan by haar nuwe pleegouers.

Volgens die Engelse nuusblad The Siberian Times het vyf tieners die babadogtertjie in ʼn eierboks op ʼn verlate pad naby Sosnovka buite Nowosibirsk gevind. Die ouers van een van die tieners het die baba na ʼn hospitaal gehaas waar sy ondersoek en behandel is.

Sy is nou is die sorg van dié egpaar terwyl plaaslike owerhede na die biologiese ma en ander familielede soek.

Sou geen familielede opgespoor word nie, hoop dié pleegouers om die dogtertjie as hul eie aan te neem.

Dmitry Litvinov, in wie se pleegsorg die dogtertjie is, het aan die Russiese koerant NGS gesê die tieners het ʼn draai gaan loop toe hulle op die boks afgekom het.

“Dit was reeds donker en hulle het die liggies van hul selfone gebruik om te sien wat in die boks is.

“Binne was ʼn babadogtertjie met ʼn lappieskombers en ʼn bottel.”

Litvinov se seun, Renat, het hom en sy vrou, Anna, na die toneel ontbied en vandaar het hulle die baba na die hospitaal geneem.

Dmitry Litvinov (links) en sy vrou, Anna (regs), hoop om die baba aan te neem. (Foto: The Siberian Times)

“Die vrees was dat die baba, vermoedelik drie dae oud, dalk vriesbrand opgedoen het en nie sou oorleef nie,” lui die berig op NGS.

“Dokters het die dogtertjie met haar aankoms by die hospitaal warm gemaak, waarna haar gelaat weer pienk geword het.”

Sy is deur dokters as gesond verklaar, wat glo talle hospitaalpersoneel trane van vreugde laat stort het.

Volgens NGS sal die pleegouers verskeie dokumente moet verskaf en ook kursusse ondergaan alvorens hulle as aanneemouers in aanmerking kan kom.

Tierwelpie veg teen vriesbrand

Intussen veg ʼn beseerde Siberiese tierwelpie (ook bekend as ʼn Amoer-tier) al weke lank om haar lewe nadat sy onder meer vriesbrand opgedoen het.

Luidens ʼn berig op AFP het Russiese diereredders Woensdag gesê dat die welpie aan uitputting, vriesbrand en ander beserings gely het toe sy einde verlede jaar deur ʼn visserman op ʼn rivierbank suid van die Primorye-streek gevind is.

Volgens die Amur Tiger Centre word die welpie, ongeveer vyf maande oud, tans by ʼn rehabilitasiesentrum behandel.

“ʼn Eksterne ondersoek het getoon dat die welpie erg uitgeput was weens vriesbrand aan die punt van haar stert. Die punt van die stert is ook later geamputeer.

“Weefsel in die welpie se kakebeen het ook weens haar beserings begin doodgaan,” het die sentrum gesê.

Die welpie het boonop ook net sowat 20 kg geweeg, wat die helfte van die algemene norm is.

Sy het sedertdien 10 kg opgetel en ook ʼn operasie van langer as twee uur ondergaan waartydens gesonde weefsel oorgeplant is om haar kakebeen te herstel.

Die sentrum sê hoewel die operasie suksesvol was, dit nog te vroeg om te sê of die welpie weer in die natuur vrygelaat sal kan word.

“Die belangrikste nou is om weefselnekrose te stop en die tier se lewe te red.”

Bronne: AFP / The Siberian Times

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

5 Kommentare

jongste oudste gewildste
Shakespeare

So baie oorsese kriminele aktiwiteite in ons nuus. Is dit om te wys dat dit eintlik goed gaan in ons verwoeste land ??

Misky

Hierdie baba wat in Rusland gevind is, haal wereldnuus en by ons is dit ‘n alledaagse verskynsel. Bly sy is lewend gevind en gaan gelukkig wees by haar pleegouers.

JM

Hoe ontsettend wreed kan die mensdom wees! Hoe kry ‘n ma soiets oor haar hart?

koos

Is dit die kroon van die Skepping wat ‘n onbeholpe kind so aan haar eie oorlaat? Die mensdom moet dankie sê dat ek nie God is nie, wys jou net hoe onverstaanbaar groot Sy genade en liefde vir ons is

Toy

Dit is wreed.