Baba met baie tande geopereer

Die baba van Indië (Foto: Facebook)

Sewe ontwikkelde tande moes gedurende twee operasies uit die mond van ʼn een maand oue baba van Gujarat in die weste van Indië verwyder word.

Dr. Meet Ramatri, wat dié operasies einde Augustus uitgevoer het, sê die baba is terug by die huis en sy herstelproses verloop goed.

Ramatri sê hy het tydens ʼn ondersoek in Augustus opgemerk dat die sewe tande wel heeltemal ontwikkel is, maar dat hulle moontlik kan afbreek omdat die tande glo nie sterk genoeg was nie.

“By sommige babas sien jy al ’n bietjie tande, maar in dié geval was die tande ten volle ontwikkel. Hoewel dit ongewoon is, is dit nie noodwendig ʼn abnormale toestand nie. Ons was egter genoop om die tande te laat verwyder omdat die ma nie kon borsvoed nie en uit vrees dat die tande sal afbreek, in die baba se lugpyp beland of skade aan sy ingewande aanrig,” het Ramatri aan die BBC gesê.

Hy sê die dokters was voor die operasie bekommerd dat die tande gedurende die operasie sou afbreek, maar sê altwee operasies het suksesvol verloop.

Ramatri sê dit is onwaarskynlik dat dié operasies toekomstige ontwikkeling van die baba se tande sal beïnvloed.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Mart Swart ·

My dogter is 35 jaar gelede gebore met 2 tande onder, soos wat ‘n baba eerste kry. Na baie advies word die tandjies getrek. Sy het nooit daar melktandjies gekry nie en haar permanente tande het skeef gegroei. Sy het draadjies gedra van 7 tot 13 jaar om haar tande reg te spasieër. Party tande is nog skeef.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.