Baba met drie mense se DNS gebore

Argieffoto: https://pixabay.com

Argieffoto: https://pixabay.com

Volgens wetenskaplikes is die eerste babaseuntjie gebore met DNS van drie mense deur middel van ʼn omstrede nuwe tegniek.

DNS van die pa, ma en ʼn eierseldonateur is gebruik. Die doel was om te verhoed dat die kind ʼn noodlottige genetiese siekte by die ma (36) erf. Sy het voorheen al twee kinders weens Leigh-sindroom, ʼn ernstige neurologiese afwyking, aan die dood afgestaan. Die kinders is op agt maande en ses jaar oorlede.

Die onthulling is in die joernaal Fertility & Sterility gemaak en na verwagting sal wetenskaplikes in Oktober meer besonderhede verskaf.

Die tydskrif New Scientist het gesê die seuntjie is vyf maande gelede gebore. Die ouers is van Jordanië en is in Mexiko behandel deur ʼn groep dokters onder leiding van dr. John Zhang van die New Hope Fertility Centre in New York.

Hoewel dié tegniek onwettig is in Amerika, het dr. Zhang gesê dit is die etiese ding om te doen om lewens te red.

Die tegniek behels die verwydering van die ‘gesonde’ DNS van die ma se eiersel en die inplanting daarvan ʼn donateureiersel voor bevrugting deur die pa se spermsel.

Mense dra DNS op twee plekke, naamlik die nukleus van die sel en in die mitochondria, wat buite die nukleus lê. Dié tegniek is so ontwerp om nie DNS van die nukleus te gebruik nie en dit sodoende te skei van die ma se ‘siek’ mitochondriale DNS.

Vyf eierselle is behandel, waarvan net een bruikbaar was.

Kritici meen die tegniek is onveilig en hierdie kinders moet vir dekades lank waargeneem word om seker te maak hulle bly gesond. Hulle meen ook dit oorskry ʼn fundamentele wetenskaplike lyn, omdat dit DNS manipuleer wat deur toekomstige generasies geërf moet word.

Brittanje het verlede jaar die eerste land geword wat wetenskaplikes toegelaat het om embrio’s met die tegniek te produseer.

Shroukhrat Mitalipov, wat met die tegniek werk by die Oregon Health & Science University in Portland, het gesê hulle glo dit is tyd om voort te gaan met goedgekeurde kliniese toetse in Amerika.

Hank Greely, ʼn etiek-kenner aan die Harvard Universiteit, het Dinsdag gesê hy glo nie daar skort iets met die tegniek mits dit veilig is nie. Hy het wel die navorsing wat die babaseuntjie wat nou gebore is tot gevolg gehad het as “oneties, onwys en immoreel” bestempel. Hy het bygevoeg die tegniek is nog nie genoeg getoets om met sekerheid te sê dit is veilig nie.

Dieter Egli, van die New York Stem Cell Foundation, was ook huiwerig oor die implikasies wat die geboorte sou hê. “Ek sou nie hierdie tegniek aan mense bemark nie, omdat ons nog nie genoeg inligting daaroor het nie. Ons moet wag vir ʼn volledige verslag,” het hy gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

jaco ·

dis jammer daar is regstellende aksie in SA. Anders sou ons slim genoeg dokters en wetenskaplikes gehad het om ook hierdie tegniek hier toe te pas: gebruik die regte DNS en skep iemand met behoorlike verstand en intelligensie om ‘n doelgtreffende president te wees – nie die huidige een met net standard 2 agter sy naam nie

manda ·

Julle het ni n idee waaroor dit gaan ni ek het n dogtertjie met n mitochondrial disorder en dis als behalwe n grap

Inge ·

Manda, ek glo nie hulle het dit so bedoel nie. Ek kan nie myself indink hoe moeilik dit moet wees vir jou nie. Stertke!

JC ·

Jinne, wat ‘n interessante artikel.
Sterke Manda, ek hoop jou en jou kind se lewe is net ‘n Seen.
JC:-)

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.