Baba met hart buite lyfie gebore

vanellope 4

Vanellope Hope Wilkins. (Foto: Facebook)

ʼn Babadogtertjie van Brittanje het wêreldwyd mediese opslae gemaak nadat sy met haar hart buite haar lyfie gebore is, en dit oorleef het.

Vanellope Hope Wilkins is op 22 November met ʼn keisersnee gebore en is glo die eerste Brit om so ʼn rare toestand te oorleef. Wilkins het reeds drie operasies in die Glenfield-hospitaal, wat in kinderharte spesialiseer, in Leicester ondergaan om haar hart terug in haar borskas te plaas.

ʼn Sonar het reeds vroeg in Wilkins se ma, Naomi Findlay, se swangerskap gewys dat haar hart en ʼn deel van haar maag buite haar lyf groei. Haar maag het later terug in haar torso ontwikkel, maar haar hart het buite haar lyf gebly.

Dié seldsame toestand lei meestal tot stilgeboortes. Babas wat met die toestand gebore word, het minder as 10% kans op oorlewing.

Wilkins se ouers, wat in Nottinghamshire woon, is aangeraai om die swangerskap te beëindig, maar Naomi (31) het geweier. Sy is reeds die ma van twee ander kinders.

Volgens The Independent moes Wilkins op Oukersaand gebore word, maar sy het reeds op 22 November haar opwagting gemaak en lewensbelangrike chirurgie het binne ʼn uur ná haar geboorte plaasgevind.

Wilkins se pa, Dean, het aan The Independent gesê die eerste tien minute ná haar geboorte was van kritieke belang. “Die dokters het gesê wanneer die baba gebore word, moet sy in staat wees om suurstof in te asem. Ná 20 minute het sy steeds gegil – dit het ons só bly en tranerig gemaak.”

Sy is onmiddellik ná haar geboorte in ʼn steriele plastieksak toegedraai en haar borskas is eers ná sewe dae oopgemaak om spasie te maak vir haar hart om in te pas. Tydens die laaste operasie is vel van onder Wilkins se arms geoes om die middel van haar lyf te heg.

Die volgende uitdaging is om die ventilator waaraan sy gekoppel is, te ontkoppel. Volgens haar ouers is sy ʼn “regte vegtertjie” en is sy vernoem na ʼn karakter in die Disney-animasiefliek Wreck it Ralph. “In die storie is Vanellope hardkoppig en word sy aan die einde ʼn prinses, so dit is gepas.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Denise ·

So bly die operasie was n sukses sterkte aan die ouers!!!!!!!!!!!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.