Baba op Nirvana-albumomslag eis vergoeding ná 30 jaar

Spencer Elden in 2016. Hy hou die Nirvana-albumomslag vas waarop hy as baba verskyn het. (Foto: Facebook)

Spencer Elden, die man wie se ongewone babafoto gebruik is vir een van die mees herkenbare albumomslae van alle tye, Nirvana se Nevermind, beweer nou dat die foto op kinderpornografie neerkom en het Dinsdag met regstappe begin.

Die albumomslag is ’n foto van baba Elden in ʼn swembad met sy geslagsdeel wat blootgestel is. Die beeld is oor die algemeen geïnterpreteer as ʼn standpunt oor kapitalisme, aangesien die baba entoesiasties na ʼn digitale dollar-noot aan ʼn vishoek swem.

Nie-geseksualiseerde kaalfoto’s van babas word oor die algemeen nie wetlik as kinderpornografie beskou nie.

Robert Y. Lewis, Elden se prokureur, bied egter ʼn ongewone interpretasie van die foto aan en voer aan dat dit die lyn na kinderpornografie oorskry. Hy skryf dat die insluiting van geldnote in die foto dit laat voorkom dat die baba ʼn “sekswerker” is.

“Die verweerders [Nirvana] het met opset Spencer se kinderpornografie kommersieel bemark en die skokkende aard van die foto gebruik om hulself en hul musiek te bevorder,” lui die hofstukke wat by die distrikshof in Kalifornië in die VSA ingedien is.

“Die verweerders het kinderpornografie gebruik wat Spencer uitbeeld as ʼn noodsaaklike element van ʼn reklamebevorderingskema wat algemeen in die musiekbedryf gebruik word om aandag te trek, waarin albumomslae kinders seksueel uitlokkend uitbeeld om bekendheid te verwerf, verkope aan te moedig, die aandag van die media te trek en om resensies te verkry.”

Lewis het ook na “soortgelyke albumomslae” soos Scorpion se Virgin Killer, Blind Faith se Blind Faith en Van Halen se Balance verwys.

Elden, wat soos die Nevermind-album nou 30 jaar oud is, eis ten minste $150 000 van elkeen van die rockgroep se oorlewende lede, Dave Grohl en Krist Novoselic; Courtney Love, die kurator van Kurt Cobain se boedel; die fotograaf Kirk Weddle; die kunsregisseur Robert Fisher en ʼn aantal bestaande of voormalige platemaatskappye wat die album oor die laaste drie dekades versprei het.

Die oorspronklike tromspeler vir Nirvana, Chad Channing, word ook genoem as ʼn verweerder wat destyds deel was van die groep, al is hy in 1990 deur Grohl vervang, nog voordat die album opgeneem of die omslagfoto geneem is.

Die albumomslag van Nirvana se ‘Nevermind’, wat in 1991 uitgereik is.

Elden het egter as tiener en volwassene herhaaldelik die foto herskep en het met die album se 10de, 17de, 20ste en 25ste herdenkings in swembaddens geposeer – met swemklere aan.

In die meerderheid van die onderhoude wat saam met hierdie foto’s gepubliseer is, het hy diep gemengde gevoelens uitgespreek oor sy bekendheid weens die Nevermind-albumomslag en of hy daardeur uitgebuit is of nie.

Tot nou, ten spyte van sy voortgesette teenstrydigheid oor die foto se nalatenskap, het hy dit nie voorheen as pornografies beskryf nie.

Elden het voorheen gesê hy is nooit vir die foto vergoed buiten die $200 wat sy ouers op die dag van die fotosessie betaal is nie. In vorige onderhoude het hy gesê hy het op ʼn daaglikse basis met Grohl en Novoselic in aanraking probeer kom, maar het nooit ʼn antwoord gekry nie.

ʼn Moontlike nuwe bewering in die regsgeding is dat Elden se ouers nooit papierwerk onderteken het wat die gebruik van die foto moontlik maak nie.

Die laaste keer wat Elden as volwassene die foto herskep het, het hy aan die New York Post gesê: “Die herdenking beteken baie vir my. Dit is vreemd dat ek dit gedoen het vir vyf minute toe ek vier maande oud was en dit het hierdie ikoniese foto geword. Dit is koel, maar ook vreemd, om deel te wees van iets so belangrik wat ek nie eers kan onthou nie.”

Op die album se 25ste herdenking vyf jaar gelede, het ʼn 25-jarige Elden aan Time gesê hy het “’n bietjie ontsteld geraak vir ʼn oomblik” soos wat hy ouer geword het. “Ek het probeer uitreik na hierdie mense, maar het nooit iemand ontmoet nie. Ek het nie ʼn oproep of e-pos ontvang nie. Ek het net wakker geword as deel van hierdie massiewe projek. Dit was nogal moeilik – jy voel asof jy nie vir iets bekend is nie aangesien jy niks anders as hulle album gedoen het nie.”

Hy het destyds gesê hy erken die konsep vir die omslag was “geniaal” en het inderwaarheid die Nevermind-embleem op sy bors laat tattoeëer. In 2016 het hy by sy storie gevoeg: “Dit is moeilik om nie ontsteld te raak as jy hoor hoeveel geld betrokke was nie… As ek na ʼn bofbalwedstryd toe gaan en dink: ‘Man, almal by hierdie wedstryd het seker my klein geslagsdeel gesien’, dan voel ek asof ʼn deel van my menseregte geskend is.”

Bron: Variety

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

39 Kommentare

LD ·

Nee wat, hyt ñ kans gesien om ñ vinnig $ te maak! Inteendeel moet sy ouers aangekla word want hulle het die neem en die publishing van die foto toegelaat!

Deonne ·

Hy soek net geld, hoekom nou eers na so n lang tyd? Ek glo hy was meer populer voordat hy nou met hierdie dagvaardiging begin het. $150000 is vir Dave Grohl en Kie sakgeld, laat hulle hom maar sy geldjies betaal laat hy gaan.

Misky ·

Absoluut belaglik en die ou en sy prokureur jaag net die dollars!!!! Sy ouers was destyds tevrede met die offer van $200 en die feit dat dit ‘n sukses uitgedraai het, het absoluut niks met hom te doen nie.

Swerwer ·

Hoe siek kan mens wees. Hy soek seker maar bietjie geld. Na al die jare wat hy nogsteeds in swemklere gepseer het wil hy nou skielik regstappe neem. Asseblief!

Lood ·

Hy het seker geld nodig en nou probeer hy maar iets kry. Of dalk soek hy net publisiteit.

Porseleintjie ·

Van alles moet iets gemaak word. Boet, waarvan die hart vol is, loop die mond van oor.

Leana ·

Dit is nou regtig belaglik verby, weet nie wie die geldgierigste is nie, Elden of die prokureur.

Juanita ·

Net soos in die foto as baba gryp hy na geld as volwassene. Dis nogal baie gepas…

Blikkies ·

Stupid, Stupid, Stupid. Hy soek ‘n vinnige geldjie! As hy dit regkry gaan almal af chop wat van my baba fotos geneem het.

Bart-Man ·

Sy kraantjie is so klein, hulle moes sy Ma net $20 gegee het.

Peetjie ·

Ag regtig ..jy ruk nou die dam onder die eend uit… Get n life!!!!

AH ·

Get over yourself!! Die knaap het al die jare voordeel getrek uit die foto. Dis duidelik dat iemand in sy oor gefluister het dat hy geld kan maak wanneer die skending van sy “menseregte” in die prentjie kom Ons het almal deur die jare onwetend ons kinders en kleinkinders se menseregte geskenk deur met liefdevolle gedagtes fototjies van babas in die bad te neem. Nou het iemand met wellustige gedagtig dit ‘n nare draai gegee om ‘n vinnige geldjie te maak! Absoluut belaglik!!

Baardman ·

Jou ouers is klaar $200 betaal vir die foto, hoor by hulle waars jou “cut”. As hulle so dom was om net soveel geld te aanvaar vir die foto kan jy niemand anders kwalik neem nie. Business 101.

Charmain ·

Ag please get a life! Genade wat nog! Die mensdom is litigeer gek!

Petrie ·

Hierdie kabouter en sy prokkerower soek geld en niks anders nie. My genugtig kom hy nou na 30 jaar eers by?

Annabelle ·

Dis nou pleinweg net om te probeer geldmaak. Kry ‘n lewe ou.

Mariana ·

Ag nee die mannetjie soek geld. Regtig hoe kleinlik. Dagvaar jou ouers wat hierdie foto toegelaat het. Duisende mense neem fotos van hul babas, kaal, nou is dit pornografie.

Mariana ·

En hy is die een wat met die tattoo op sy bors loop. Hy soek beslis geld.

Chuck ·

‘n Opportunis sal nooit honger gaan nie…..dit gaan nie oor sy beeld nie, dit gaan oor geld. Selfs al word hy miljoene uitbetaal,en die verdere verspreiding van die omslag verbied, gaan die albums oor die wereld verspreid, nie oornag verdwyn nie.

Jack ·

Hy moet sy ouers hof toe vat as hy dan so eenvoudig wil wees.

Peach ·

Die kêrel moes eerder gevra het vir ‘n persentasie “royalties” van die verkope vd album want, met sulke sensasie gaan die pedofiele nou al die oorblywende albums op die rakke koop.

Belinda ·

Na al die jare se roem ens nou wil hy huil oor kamstige kinder pornografie. Soos die ou daar lyk, lyk hy sommer soos iemand wat nie wil werk vir sy geld nie en kyk waar om n vinnige buck or two te maak, en die prokureer speel saam want hy wil ook n ietsie daaruit kry, al is dit net faam…

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.