Baba tussen ouers in bed dood

Ifan George Torlop is in Augustus 2020 dood. (Foto: Dignity Funerals / The Mirror UK)

Toe ’n ouerpaar van Wallis in die Verenigde Koninkryk op 2 Augustus verlede jaar ontwaak, het hul ses maande oue babaseuntjie leweloos en blou tussen hulle gelê.

Luidens internasionale beriggewing het ’n ondersoek wat na die voorval van stapel gestuur is verlede Donderdag onthul dat Ifan George Torlop laer afgesak het tot onder die duvet en dat dít moontlik tot sy dood gelei het. Hy het tussen sy ma, Alana Bailey, en pa, Samuel Torlop, in hul bed geslaap.

Daar is in dié stadium egter nog nie ’n finale verslag oor die presiese oorsaak van Ifan se dood bekendgemaak nie en dit is nog nie duidelik of sy ouers daarvoor aanspreeklik gehou sal word nie.

WalesOnline berig Bailey het eerste wakker geword en paniekerig begin skree toe sy sien haar seuntjie lê onder die kombers en dat daar groot fout is.

Die ouerpaar het nooddienste ontbied en tevergeefs probeer om self mond-tot-mond-asemhaling op Ifan toe te pas. ’n Verpleegster wat langs die gesin woon, het Bailey se angstige gille gehoor en haar na hul huis gehaas in ’n poging om te help.

Nooddienswerkers kon nie daarin slaag om die baba weer by te bring nie.

Daily Mail berig dat die baba geen ander beserings gehad het nie. Dit blyk ook nie dat een van die ouers bo-op Ifan gelê het nie.

Dr. Deryk James, ’n patoloog, sê daar is verskeie risiko’s ter sprake wanneer babas saam met ouers in die bed slaap.

“Die baba kan doodgaan as hy of sy te warm is of in ’n ongewenste posisie lê. Indien die ouers onder die invloed van drank is, sal hulle moontlik minder bewus van die baba se posisie wees.”

’n Toksikologieverslag het wel aangedui dat Bailey, wat glo twee klein glasies wyn gedrink het, bo die wettige drink-en-bestuurperk was. Torlop, wat twee biere gedrink het, was nie oor die perk nie.

Die ouers het urientoetse vrywillig toegestaan.

“Dit is bekend dat dit gevaarlik is vir babas om saam met ouers in die bed te slaap en die ouers is voorheen hieroor gewaarsku. Dit ly egter geen twyfel nie dat die kind goedversorg en skoon was en in ’n liefdevolle huishouding grootgemaak is,” het konst. Ian Wozencroft namens die South Wales-polisie gesê.

Die voorval is as ’n “tragedie” en “ouers se grootste nagmerrie” bestempel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Sandra ·

Ja al was hul deels verantwoordelik, dink ek hulle het al klaar hul straf begin uitdien van spyt, selfblaam en alles wat daarmee gepaard gaan om ‘n kind op so ‘n manier te verloor.

Filistyn ·

Sterkte. Seker die grootste riller vir enige ouer – jou kind sê dood.

Misky ·

Shame, ek dink hierdie ouers is reeds deur hel. Waarom nou nog wil aankla? Dit was ‘n tragedie en los dit nou maar en ander hopelik ook daaruit geleer

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.