Baba van 25-jarige embrio gebore

emma-wren-gibson

Emma en haar ma, Tina. (Foto: Facebook/Southern Charm Portraits)

ʼn Vrou van Tennessee in die VSA het onlangs ʼn wêreldrekord opgestel toe sy geboorte geskenk het aan ʼn baba wat die resultaat is van ʼn embrio wat reeds in 1992 gevries is.

Die vrou, Tina Gibson, is 26 jaar oud. Die embrio is dus slegs een jaar jonger as Gibson. Die embrio is gevries op 14 Oktober 1992.

Die oudste gevriesde embrio sover bekend wat suksesvol tot geboorte ontwikkel het, was 20 jaar oud.

Dr. Jeffrey Keenan, die mediese direkteur van die Nasionale Embrioskenkingsentrum, het die baba, Emma Wren Gibson, op 25 November deur ʼn keisersnee in Knoxville in die ooste van Tennessee in die lewe gebring.

Emma se ouers, Tina en Benjamin Gibson, het aan CNN erken hulle was verras toe hulle uitvind presies hoe oud die embrio is wat op 13 Maart deur Carol Sommerfelt van die embriologie-laboratorium ontdooi is.

“Ek wou net ʼn baba hê. Ek gee nie om of dit ʼn wêreldrekord is of nie,” het Tina aan CNN gesê.

“Die geboorte is opwindend, in ag genome hoe lank die embrio gevries was,” het Sommerfelt gesê.

Emma is ʼn gesonde babadogtertjie van ongeveer 3 kg en is sowat 50 cm lank.

“Ons is net so dankbaar en geseënd. Sy is ʼn kosbare Kersgeskenk van die Here af,” het Tina gesê.

Benjamin (33) het gesê ten spyte van die feit dat hulle nie gene deel nie, voel Emma heeltemal soos sy eie kind. “Die oomblik toe sy gebore is, het ek verlief geraak op haar,” het hy gesê.

emma wren gibson

Benjamin, Tina en baba Emma. (Foto: Facebook/Southern Charm Portraits)

Die Gibsons het vertel dat Emma se embrio hul tweede keuse vir hul in vitro-bevrugting was. “Ons het vir twee weke deur omtrent 300 profiele gegaan,” het Benjamin gesê.

“Dit was oorweldigend,” het Tina beaam. “Daar was so baie en ons was nie seker hoe om te kies nie.”

Omdat die paartjie beide fisiek klein is, het hulle begin deur na profiele te kyk waar faktore soos die lengte en gewig by hulle sou pas. “Daarna het ons na groter faktore gekyk, soos mediese geskiedenis. Lang storie kort het ons uiteindelik ons profiel gekies, maar die embrio was nie lewensvatbaar nie, en ons het toe gegaan vir ons tweede opsie,” het Tina verduidelik.

“Eers tydens die implantasie-prosedure het hulle vir ons gesê dit is moontlik ʼn wêreldrekord.”

Volgens CNN weet niemand egter of dit werklik ʼn rekord is nie. “Om die oudste embrio bekend te identifiseer is eenvoudig onmoontlik,” meen dr. Zaher Merhi, direkteur van IVF-navorsing en -ontwikkeling by die New Hope Fertiliteitsentrum, wat nie betrokke is by Gibson se geval nie. Amerikaanse maatskappye hoef slegs verslag te lewer aan die regering oor die uitslag van die swangerskappe en nie die ouderdomme van embrio’s wat gebruik word nie. “Dus het niemand hierdie rekords nie,” meen Merhi.

emma-wren-gibson3Ander kenners het egter die studie van ʼn 20-jarige gevriesde embrio wat suksesvol ontwikkel het tot geboorte aangehaal.

Hoewel Tina tydens die swangerskap gesukkel het as gevolg van ʼn kort serviks, wat haar kon verhoed om ʼn suksesvolle swangerskap deur te voer, het sy net na Dankseggingsdag in 20 ure van kraam ingegaan. Emma se hart het deurentyd normaal geklop.

“Alles het net in plek geval,” het Tina gesê. “Dit is nou wat vir ons normaal is. Dit is gek om daaraan te dink.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Elaine ·

Dis onwerklik.
So as sy 25 jaar terug gebore sou wees sou sy so oud soos die mamma gewees het.
Weird…

Klein Jane ·

Die behoefte aan n babatjie kan nie beskryf word aan iemand anders nie! Ek is saam met hulle bly!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.