Baba wat uit puin gered is met familie herenig

Klein Afraa is die enigste oorlewende van haar onmiddellike gesin. (Foto: Rami al Sayed/AFP)

Die babadogtertjie wat vroeër vandeesmaand uit die puin van ʼn huis in die noorde van Sirië gered is, is nou met haar tannie en oom herenig.

BBC News berig dat DNS-toetse haar positief met haar biologiese tannie, Hala al-Sawadi, verbind het. Sy is daarna uit die hospitaal ontslaan en in die tannie se gesin se sorg geplaas. Die dogtertjie is sedertdien ook na haar oorlede ma, Afraa, genoem. Nooddienswerkers het haar aanvanklik Aya gedoop, wat wonderwerk in Arabies beteken.

Maroela Media het vroeër berig dat klein Afraa nog met ʼn naelstring aan haar ma verbind was toe nooddienswerkers haar ná ʼn massiewe aardbewing gevind het. Haar ouers en vier sibbe is almal dood toe Sirië en die naburige Turkye deur ʼn aardbewing van 7,8 getref is.

Volgens BBC gaan dit goed met Afraa. Sy was ongeveer tien uur lank onder die puin vasgekeer voordat sy gered is, en het verskeie skrape en seerplekke aan haar lyf gehad toe sy hospitaal toe geneem is.

Hala se man, Khalil, het aan die Associated Press-nuusagentskap gesê Afraa is nou deel van hul gesin, en dat hy haar soos sy eie sal grootmaak.

“Sy is nou een van my kinders.

“Daar sal geen onderskeid tussen haar en my eie kinders wees nie.”

Khalil en Hala het drie dae na die aardbewing ook nog ʼn baba van hul eie verwelkom. Hulle woon tans by ander familielede aangesien hul huis ook in die aardbewing verwoes is.

Hy sê Afraa beteken baie vir hul gesin aangesien sy die enigste oorlewende van haar eie gesin is.

Khalil sê die familie was baie bekommerd dat Afraa dalk ontvoer sou word aangesien duisende mense aangebied het om haar aan te neem nadat haar redding groot opslae in die media gemaak het.

Meer as 45 000 mense regoor Turkye en Sirië is in die aardbewing dood. Maroela Media het vroeër vandag berig dat nog ʼn aardbewing van 6,4 die suide van Turkye en die noordelike dele van Sirië Maandag getref het. Drie mense is tot dusver in dié jongste aardbewing dood en 213 beseer.

 

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.