Babadogtertjie deur wasbeer aangeval

Die vier maande oue Journi Black, wat deur ‘n wasbeer aangeval is (Foto: CBS3)

ʼn Vier maande oue babadogtertjie is in haar ouerhuis in Philadelphia in Amerika deur ʼn wasbeer aangeval.

Ashley Rodgers, die ma van die dogtertjie, het gesê die aanval het Woensdagaand in die gesin se huis op die eerste verdieping plaasgevind. Sy het hul sesjarige seun na die badkamer geneem terwyl Journi op ʼn bed gelê en slaap het. Toe sy terugkeer, het Journi geskree en haar gesig het gebloei. Volgens Rodgers het die wasbeer die dogtertjie oor die vloer gesleep.

“Ons het geluide op die boonste verdieping gehoor en toe gesien hoe ʼn wasbeer by die trappe afhardloop,” het sy verduidelik.

Die baba is na ʼn hospitaal geneem en sy moes meer as 60 steke en ʼn inspuiting teen hondsdolheid kry. Sy is besig om aan te sterk, en dokters sê haar oë is nie beskadig nie.

“Dis net belaglik,” het Samuel Black, die dogtertjie se pa, gesê. “Ek het gedink dis ʼn nagmerrie toe hulle my bel. My hart het gesink. Ek weet nie wat om te sê of wat om te dink nie.”

Philadelphia se dieresorg en -beheerspan is ontbied, maar kon nie die wasbeer opspoor nie. Beamptes het intussen die gebou ondersoek en valletjies is gestel.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.