Babas by geboorte omgeruil

Argieffoto (Foto: StockSnap/Pixabay)

ʼn 19-jarige vrou eis miljoene euro se skadevergoeding ná dit onthul is dat sy byna twee dekades gelede per ongeluk met ʼn ander pasgebore baba omgeruil is.

Die voorval het in 2002 by die San Millan de Logrono-hospitaal in die noorde van Spanje plaasgevind. Die twee babas is vyf ure ná mekaar gebore en in broeikaste geplaas toe die “eenmalige menslike fout” plaasgevind het, het gesondheidsowerhede in die streek gesê.

Die fout is vier jaar gelede opgespoor toe een van die meisies ʼn DNS-toets ondergaan het as deel van ʼn dispuut oor onderhoudbetaling vir kinders.

Die vrou, nou 19, eis vergoeding van €3 miljoen (sowat R50 miljoen) van gesondheidsowerhede omdat sy aan die verkeerde gesin oorhandig is, het haar prokureur, Jose Saez-Morga, aan AFP gesê. “Ons praat oor ʼn groot skadevergoeding wat haar die res van haar lewe sal hou en nooit weer aangevul hoef te word nie.”

Gesondheidsowerhede in die Rioja-streek het tot dusver slegs €215 000 (R3,6 miljoen) in skadevergoeding vir die vrou, wat anoniem wil bly, aangebied.

Sara Alba, hoof van gesondheid in die streek, sê rekenaarstelsels het in daardie stadium nie soveel besonderhede bevat soos vandag sʼn nie en het benadruk dat ʼn soortgelyke fout nie weer kan gebeur nie.

Sy het Dinsdag tydens ʼn perskonferensie gesê beamptes is “nie bewus van enige ander soortgelyke voorval” by die hospitaal, wat intussen sy deure gesluit het nie. “Ons kon nog nie bepaal wie vir dié fout verantwoordelik is nie. Dit was ʼn eenmalige menslike fout en dit kan nie vandag gebeur nie. Ons kan waarborg dat dit nie weer sal gebeur nie.”

Saez-Morga sê die ander jong vrou wat met geboorte omgeruil is en haar familie ondergaan ook DNS-toetse. Sy wil ook anoniem bly en het tot dusver nog nie skadevergoeding geëis nie.

Volgens plaaslike berigte in Spanje is een vrou na ʼn egpaar gestuur wat, só het sy geglo, haar ouers is. Die 19-jarige, wat die skadevergoeding eis, is deur ʼn vrou grootgemaak wat sy foutiewelik gedink het is haar ouma.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Frank John ·

Watse finansieële skade het sy gehad het sy gehad? Behalwe as die een ryk was en die ander ouer arm was.

Herms ·

So, sy is baie ongelukkig tot sy die R50miljoen het. Dan is sy weer gelukkig…….

Misky ·

Watse verskil gaan die geld maak en sy sal nooit weer die tyd kan terugkry saam biologiese ouers nie. Kansvatter en wil oornag ryk word

Belinda ·

mense kan darm maar enige rede soek om maklike geld te maak. plaas sy dankbaar wees dat sy nou op die einde van die dag 2 families het. mense wil altyd net die negatiewe raaksien, maar ja dis mos n easy buck wat verdien kan word. swak…

LIEZL ·

Ek was amper in die Paarl hospitaal omgeruil 46jaar terug. My ma het ‘n ander baba in haar arms gekry en vir die verpleegsters gesê, dis nie haar kind nie. Hopelik is ek by die regte familie…..haha

Minion ·

As ek die kommentaar lees, is mense maar baie geneig om klippe te gooi.. miskien vat sy kans – maar aan die ander kant? Wat is die huislike lewe wat sy gehad het? Sou dit beter by haar eie ouers gewees het? Hulle praat van DNS toetse vir onderhoudsbetalings… En: Sou jy eerder by iemand anders wil grootword as by jou eie ouers? Watter invloed het hierdie “menslike fout” nie op hierdie 2 kinders se lewe gehad nie?

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.