Babas gebore, al reën die bomme

Dié ma het geboorte geskenk in ‘n bomskuiling in Kiëf. (Foto: Twitter)

Die oorlog woed in Oekraïne, maar dit keer nie die natuur om sy gang te gaan nie, en verskeie babas is nou al gebore terwyl bomme op die hoofstad Kiëf neerreën. ʼn Baba is selfs in ʼn ondergrondse treinstasie gebore.

Die nuuswebtuiste Daily News berig ʼn babadogtertjie is Vrydag in ʼn treinstasie in Kiëf wat as bomskuiling dien, gebore. “Mia is gebore tydens ʼn bomaanval in Kiëf. Dit was ʼn moeilike geboorte, maar haar ma is tevrede,” het Hanna Hopko, voormalige adjunkhoof van Oekraïne, in ʼn plasing op Twitter geskryf. Sy het ʼn foto van die ma gedeel wat die klein handjie van ʼn pasgebore baba vashou.

Nog twee babas is dieselfde aand in ʼn bomskuiling in Kherson gebore. Viktor Liashko, Oekraïne se minister van gesondheid, het in ʼn Facebook-plasing gesê die twee seuns is gesond, ten spyte van die feit dat hulle te midde van “bomme en ontploffings” gebore is. “Hierdie kinders is die gesig van die oorlog en is ʼn simbool van Oekraïne se deursettingsvermoë. Die lewe gaan aan. Ons gee geboorte aan kinders en niemand kan ons oorwin nie,” het hy geskryf.

Volgens ʼn twiet deur The New Voice of Ukraine, is nog twee seuntjies in die bomskuiling van ʼn Oekraïense kraamhospitaal gebore.

Russiese magte het Vrydagnag ʼn aanval op Kiëf geloods. Volgens ’n AFP-joernalis is harde ontploffings vroeg vanoggend in Sentraal-Kiëf gehoor.

Oekraïne se ministerie van verdediging het intussen gesê “twee vyandelike teikens” is afgeskiet. Dié teikens is as ’n Russiese SU-25-helikopter en ’n militêre bomwerper geïdentifiseer.

’n Russiese troepevliegtuig is ook naby die stad Vasylkiv, ongeveer 30 kilometer suidwes van Kiëf, afgeskiet.

Intussen het duisende betogers reg oor die wêreld die strate ingevaar in protes teen Rusland se inval van Oekraïne. Betogings het Saterdag onder meer in New York, in Frankryk en in Switserland plaasgevind, berig AFP.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.