Baie beseer in Kalifornië-aardbewing

Foto: Napa Valley Register/Facebook

Foto: Napa Valley Register/Facebook

Sowat 170 mense is in hospitale opgeneem nadat ʼn aardbewing van 6 op die momentmagnitudeskaal Sondag net noord van San Franciscobaai voorgekom het.

Sowat 100 huise is onveilig verklaar. Dit is die sterkste aardbewing in die omgewing in 25 jaar.

Die omgewing, bekend as Napa County, is bekend vir sy wingerde, en verskeie historiese geboue in die wynbedryf is erg beskadig, berig die Los Angeles Times.

Teen laat Sondagaand was sowat 30 000 inwoners in die omgewing nog sonder krag.

Inwoners van Kalifornië leef in afwagting van “die groot een” wat volgens verskeie voorspellings reeds moes gekom het. Die bekend San Andreas-verskuiwingsvlak loop van bo na onder deur Kalifornië, en onderdeur die Goldengate-brug. Die jongste aardbewing het egter in ʼn verskuiwingsvlak voorgekom waarvan min bekend is.

Die aardbewing se episentrum was 11,3 kilometer diep, net-net dieper as die twee onlangse aardbewings in Suid-Afrika. Kaliforniese aardbewings is egter dikwels heelwat vlakker, wat die skade vererger.

Dié aardbewing was egter nie die sterkste wat die aarde die afgelope 24 uur geskud het nie. In Sentraal-Peru het ʼn aardbewing van M6,9 plaasgevind, maar op ʼn diepte van meer as 100 kilometer, en nie baie na-aan stedelike gebiede nie. CBS News beskryf dit as ylbevolkte gebied.

ʼn Aardbewing van M 5 het ook in Turkye voorgekom, terwyl een van M5,3 in Ysland voorgekom het. Die sterk aardbewing in Ysland hou vermoedelik verband met ʼn vulkaan wat aktief geword het.

Bronne: Los Angeles Times, Trouw, USGS.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.