Baie bewysstukke oor MH 17-ramp gevind

Kerse brand ter ere van die slagoffers van vlug MH17 by die Nederlandse ambassade in Kiev. Foto: The Nose/Facebook

Kerse brand ter ere van die slagoffers van vlug MH17 by die Nederlandse ambassade in Kiev. Foto: The Nose/Facebook

Die Nederlandse Openbare Ministerie (OM) weet reeds veel meer oor die MH 17-ramp as wat tot dusver bekend gemaak is.

Die OM is min of meer die Nederlandse weergawe van die Suid-Afrikaanse Nasionale Vervolgingsgesag. Die nuus blyk uit ’n skrywe wat Fred Westerbeke, hoofoffisier van die OM, aan die naasbestaandes gestuur het.

Malaysia Airlines se vlug MH17 was op 17 Julie vanjaar van Nederland na Kuala Lumpoer onderweg toe dit oor rebellebeheerde gebied in die ooste van Oekraïne neergeskiet is. Daar was 283 passasiers en 15 bemanningslede aan boord. Omdat die meeste passasiers Nederlanders was, lei Nederland die internasionale ondersoek en is alle materiaal wat op die ramptoneel gevind is, na Nederland gebring waar die rekonstruksie van die vliegtuig uit brokstukke deel van die ondersoek uitmaak. Die laaste vragte het onlangs in Nederland aangekom.

Volgens Westerbeke is groot hoeveelhede voorwerpe wat die vliegtuig van buite ingedring het, reeds gevind. Die OM het ook telefoongesprekke meegeluister, talle foto’s bestudeer wat mense van die ramptoneel geneem het, en baie verklarings van mense afgeneem.

Westerbeke skryf dat die rampvliegtuig moontlik deur ’n BUK-missiel neergeskiet is. Dit is waarskynlik die naaste wat nog daaraan gekom is om Rusland regstreeks vir die voorval te blameer. Volgehoue bewerings en foto’s uit ander bronne dui daarop dat ’n Russiese BUK-stelsel oor die grens van Oos-Oekraïne gesmokkel is, en na die neerskiet van die passasiersvliegtuig weer terug oor die grens na Rusland geneem is. Rusland ontken enige betrokkenheid.

Rebelle het na die neerskiet van die vliegtuig op sosiale media verantwoordelikheid vir die neerhaal van ’n militêre vliegtuig, ’n AN-26, aanvaar maar na dit geblyk het dat dit ’n burgerlike vliegtuig was, alle kuberaansprake verwyder en ontken dat hulle ’n vliegtuig neergeskiet het. Volgens sommige berigte het Russiese soldate self die BUK-stelsel beman.

Tog skryf Westerbeke dat nog ondersoekwerk nodig is om die moontlikheid dat die vliegtuig deur ’n ander soort missiel getref is, uit te skakel. “Dit is nie maklik om diegene wat daarvoor verantwoordelik was te vind nie.”

Bronne: ANP, Trouw, NOS, Wikipedia, The Guardian

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Dave ·

En indien sonder twyfel vasgestel word wiè die moordenaars is? Wat dan?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.