Baie Yanks wil dagga nou wettig

Argieffoto van 'n daggasigaret Foto: thedailychronic.net

Argieffoto van ‘n daggasigaret Foto: thedailychronic.net

Byna die helfte van alle Amerikaanse kiesers steun die gedagte dat hul eie deelstaat dagga vir ontspanningsdoeleindes sal wettig.

Altesaam 48% het hulle in ’n Rasmussen-peiling ten gunste van die wettiging in hul deelstaat uitgedruk – ’n nuwe hoogste vlak – teenoor 43% wat daarteen gekant is. Dagga is reeds in Colorado en Washingtonstaat gewettig. Nebraska en Oklahoma beplan egter om Colorado hieroor te dagvaar.

In Augustus is in nog ʼn peiling bevind dat 83% van die Amerikaners glo hul land is besig om die oorlog tee dwelms te verloor, teenoor 3% wat meen die land is wel besig om hierdie oorlog te wen.

Terwyl daar deelstate is wat die gebruik van dagga vir medisinale doeleindes, en met ‘n doktorsvoorskrif, wettig, en ’n reusedebat oor die praktyk woed, het die wettiging van dagga vir ontspanningsdoeleindes in verskeie deelstate, maar veral Washingtonstaat in die VSA se verre noordweste, groot steun gekry. Washington, Colorado, Oregon en Alaska het referendums hieroor gehou.

Colorado het ‘n jaar gelede die eerste staat geword waar ’n daggazol ongesteurd aangesteek kon word. Die mense het ellelange toue gevorm wat “tot om die hoek gestrek het” om in die ry te staan om dagga (wettig) te koop.

Terwyl dit reeds in Colorado en Washingon gewettig is, sal dit eers in 2015 in Oregon en Alaska wettig word. In die hoofstadgebied van Washingting DC, het die kiesers ook ten gunste daarvan gestem, maar dit is onderhewig aan goedkeuring deur die Kongres, aldus die webwerf www.governing.com.

Voorstanders het geargumenteer dat dagga niks erger as alkohol is nie, en dalk selfs minder skadelik as alkohol is, en dat die gereguleerde goedkeuring daarvan die deelstate se aksynsbelastings ’n hupstoot kan gee. Colorado het in die eerste nege maande na die wettiging altesaam $34 miljoen aan aksynsbelasting uit die 800 verkoopspunte geïn, terwyl munisipaliteite ook miljoene dollars uit die verkope geskep het.

In Washingtonstaat is voorts bepaal dat bestuur onder die invloed van dagga dieselfde soort vervolging as dronkbestuur strafbaar sal wees. In die referendums van Oregon en Colorado is nie dieselfde beperking oor bestuur onder die invloed geplaas nie. In Colorado word die selfmoord van ʼn student egter aan dagga verbind, terwyl nog kop gekrap word oor die regulering wanneer dagga op ander maniere gebruik word, soos om dit in lekkergoed in te meng, berig CBS News toe dit die jaarherdenking in Colorado onder die loep geneem het.

Voorstanders het ook geargumenteer dat die verbod “nie gewerk het nie”.

Die debat hieroor, waaraan ganse webwerwe ook deel uitgemaak het, het as die National Marijuana Debate bekend gestaan. Die tipiese argumente wat in Suid-Afrika en elders gehoor word oor die nadele en gevare van dagga, soos die verlaging van IK, is nie veel in die National Marijuana Debate gehoor of gesien nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Dewald ·

Die regerings van omtrend so 100 jaar gelede het al agtergekom dat mense wat dagga gerook het omtrend glad nie wil alkohol drink nie; hulle kon baie meer geld op alkohol maak as dagga, toe maak hulle dagga onwettig.
Die lande waar dagga nou weer gewettig is oor die laaste klompie jare, het die stattestiek bewys dat drank en dwelm misbruik aansienlik afgeneem het.

Hanno Visagie ·

Kan ons jou “stattestiek” glo?! Het jy ‘n Ph.D.?!

MickeyD ·

Hy is korek. Niemand het phd nodig om logika te verstaan nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.