Daar word vermoed dat ʼn bakteriese siekte verantwoordelik is vir die dood van meer as 30 olifante die afgelope maand in Zimbabwe.
Tinashe Farawo, woordvoerder van Zimbabwe se nasionale owerheid vir parke en natuurlewe, het Dinsdag gesê voorlopige laboratoriumtoetse toon dat die olifantsterftes toegeskryf kan word aan wat bekend staan as Pasteurella multocida tipe B wat ʼn siekte genaamd hemorragiese septisemie (bloedvergiftiging) veroorsaak. Dié siekte is waaraan die olifante eindelik doodgaan.
“Ons het monsters na Suid-Afrika en [die] Verenigde Koninkryk gestuur vir verdere toetsing.”
Altesaam 34 olifantkarkasse is die afgelope maand in Zimbabwe aangetref. Dié diere is op hul mae gevind, wat volgens kenners daarop dui dat hulle skielik dood is.
Maroela Media het vroeër berig die meeste olifante wat in die Pandamasue-bos tussen die Hwange Nasionale Park en die Victoria-waterval gevrek het, was jonk of swak.
Die diere se tande is nie verwyder nie wat dadelik die moontlikheid van stropery uitgeskakel het.
Nadoodse ondersoeke het later bevind dat van die olifante se lewers en ander organe ontsteek was.
Fulton Mangwanya, direkteur-generaal van Zimbabwe se nasionale owerheid vir parke en natuurlewe, sê dit is onwaarskynlik dat net die bakteriese siekte so ʼn ernstige uitwerking op dié land se olifantbevolking sal hê.
“Die noordwestelike streke van Zimbabwe het ʼn oorvloed olifante en hierdie siektes is waarskynlik ʼn manifestasie daarvan. Olifante stres veral in die warm, droë seisoen omdat hulle moet meeding om water- en voedselbronne.”
Die bevindinge rakende ʼn bakteriese siekte in Zimbabwe volg minder as ʼn week nadat wildbeamptes in buurland Botswana gesê het dat gifstowwe weens mikroskopiese alge in water die dood van honderde olifante in dié land veroorsaak het.
Bronne: African News Agency, BBC
O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.
1 Kommentaar
Word seker doelbewus siek/dood gemaak om die bevolking te laat krimp. Minder opstand deur omgewingsgroepe verwag as met fisiese uitdunning. Dit is immers ‘n stryd tussen menslike aanwas en die natuur.