Baldwin ‘gebroke’ na dodelike ongeluk op stel

Bordjies dui die pad aan na die filmstel van Rust, wat op die Bonanza Creek Ranch geskiet word. (Foto: Sam Wasson/Getty Images/AFP)

Die Hollywood-ster Alec Baldwin het Vrydag gesê hy is “gebroke” nadat hy ʼn kinematograaf per ongeluk op die stel van ʼn Western-fliek doodgeskiet het. Volgens Baldwin is daar aan hom gesê dat die wapen veilig is.

Die Amerikaanse akteur en vervaardiger sê hy gee sy volle samewerking aan die polisieondersoek, terwyl wetstoepassers ʼn ondersoek geloods het en berigte na vore gekom het oor die gevaarlike werksomstandighede op die stel.

“Daar is geen woorde om my skok en hartseer oor die tragiese ongeluk wat die lewe van Halyna Hutchins, ʼn vrou en ma en kollega wat diep bewonder is, geëis het te kenne te gee nie,” het Baldwin getwiet.

ʼn Assistent-regisseur wat nie geweet het die wapen is gelaai nie, het die vuurwapen aan Baldwin gegee en geroep “cold gun” – wat beteken dit bevat nie lewendige ammunisie nie – volgens ʼn deursoekingslasbrief wat die Santa Fe Reporter onder oë gehad het.

Baldwin het die vuurwapen tydens ʼn kleedrepetisie afgevuur en Hutchins in die bors en die rolprent se regisseur in die skouer getref. Die 42-jarige Hutchins is per helikopter na ʼn hospitaal vervoer, maar het aan haar beserings gesterf.

“My hart is stukkend vir haar man, hul seun en almal wat Halyna geken en liefgehad het,” het Baldwin geskryf.

Die produksie van Rust, ʼn Western waarin Baldwin die hoofrol vertolk, is intussen opgeskort. Joel Souza, die 48-jarige regisseur, is per ambulans na ʼn hospitaal geneem en later ontslaan.

Juan Rios, ʼn woordvoerder van die Santa Fe-sheriff, het gesê Baldwin het vrywillig verklarings afgelê, maar geen klag is aanhangig gemaak nie en niemand is in hegtenis geneem nie.

Hy het bevestig dat ondersoekers ʼn ondersoek op die stel uitvoer.

Die lasbrief laat ondersoekers toe om beeldmateriaal, selfone, wapens en ammunisie, asook klere wat Baldwin en ander gedra het en wat moontlik bloedspatsels op het, te versamel.

Die Los Angeles Times het berig dat ses werkers voor die skietvoorval die stel verlaat het om teen hul werksomstandighede, waaronder lang ure, beswaar te maak. Luidens die berig was Hutchins een van dié wat gevra het vir veiliger werksomstandighede.

Daar was volgens anonieme bronne glo minstens drie ander probleme met vuurwapens voor die dodelik ongeluk, lui die LA Times-berig. Die produksiemaatskappy het nie op navrae van AFP gereageer nie.

Talle huldeblyke het intussen vir Hutchins, oorspronklik van Oekraïne, ingestroom.

Die voorval het op die Bonanza Creek Ranch plaasgevind, ʼn venue wat gewild is by Hollywood-rolprentmakers. Baldwin is medevervaardiger van die rolprent en vertolk die rol van Harland Rust, wie se kleinseun van moord aangekla word. Rust en sy kleinseun slaan dan saam op die vlug.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

16 Kommentare

NuusUil ·

Dit is baie hartseer . Maar ek kry Alec baie jammer . Ek dink die een wat die wapen oorhandig het moet verantwoordelikheid aanvaar.

Perdeby ·

Die verwaardiger van die fliek sal ongelukkig moet “pa” staan vir hierdie tragedie. Die akteurs teken ongelukkig ‘n verywaringsbrief waar hulle kwyt geskel word van alles.

Deon ·

Dit baie tragies… My vraag is, wie het die sneller getrek sonder om seker te maak die vuurwapen is veilig? Waarom gebruik hulle nie “speelgoed” gewere nie?

Shakespeare ·

Tragiese insident. Maar wie is die skuldige ? Verseker nie Baldwin nie.

Jeffrey ·

Die vervaardiger. Hy was uiters nalatig en het nie n veilige werksomgewing verseker nie.

Keelvol ·

Jeffrey, Hy’s verkeerd. Dis die “propmaster .” Nie vervaardiger nie. Daar’s net 2 persone op die stel wat die wapen hanteer en laai. Die “propmaster “ en die akteur.

JohanR ·

Voel soe jammer vir die man. Hy was ‘n geweer gehandig en gese dit was veillig. Hy het die sneller getrek, maar iemand anders het op gemors.

annie ·

Hoekom enige wapen op iemand rig. Net ‘n kind sal sy speelgoedgeweer miskien grappenderwys na iemand wys. Nee, wat die akteur wil nou die martelaar speel en sodoende groot gratis reklame vir die film doen. En mense sal nou juis opdaag vir die riller-effek.

johanf ·

Ongelukkig moet die wapen sonder lewendige rondtes, na die kamera gevuur word, om die beeld te skep in ń teenoorgestele rigting, sodat dit realisties vir jou as kyker lyk, kyk maar in talle aksie films, so jy sit die pot heel mis….
My simpatie aan Hutchins, Baldwin en almal betrokke, die wapen moes veilig wees na die propmaster met haat min ondervinding dit aan hom gegee het, die akteur hoef nie weer ń veiligheidstoets te doen nie……

Barney ·

Wat ‘n koue en siniese opinie. Almal in die wêreld is nie sleg nie en ongelukke gebeur

Hennie ·

Net jammer hy is die vervaardiger, daar was tenminste 3 accidental discharges voor die noodlottige een, die vervaardiging span gekla het oor werksomstandighede en die oggend van die voorval deur nuwe lede vervang is, en dat mens nooit ‘n vuurwapen na enige iemand wys tensy jy beplan om te skiet nie, dat hy ook nie in costume was tydens die skietery en dat ‘n “prop” nooit veronderstel is om regte patrone te kan vat, so dat was ‘n regte wapen en dat regte patrone nood op stel toe gelaat word na die Brandon Lee voorval in 1993

Vrijburger ·

My innige simpatie met die slagoffer se familie.

Maar eish, karma is erg!
Nou soek Baldwin simpatie en voel hy baie jammer vir homself, maar onthou hy sy woorde en optrede na Dick Cheney se jagongeluk waar hy per ongeluk ‘n mede jagter raak geskiet het. Of met die Hunting Beach insident.

Danie ·

Jy check altyd n vuurwapen in jou hand.
Niemand se woord word aanvaar vir vuurwapen veiligheid nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.