Baldwin gedagvaar oor skietery op stel

Die skietvoorval waarby die akteur Alec Baldwin betrokke was, het op die stel van die rolprent “Rust” gebeur. (Foto: Angela Weiss/AFP)

ʼn Spanlid dagvaar die Amerikaanse akteur Alec Baldwin oor die noodlottige skietery op die stel van die rolprent Rust wat die lewe van ʼn kinematograaf geëis het.

Hannah Gutierrez-Reed, die wapenbewaarder op die stel, word ook in die hofstukke – wat beweerde nalatigheid aanvoer – betrek. Haar regsverteenwoordigers het vroeër gesê sy word as die skuldige voorgehou oor die dood van Halyna Hutchins.

Die rolprent, wat op ʼn stywe begroting vervaardig word, se hoofbeligtingstegnikus, Serge Svetnoy, voer in die hofstukke aan Hutchins se dood is “veroorsaak deur nalatige optrede en agtelosigheid” deur Baldwin en ander.

“Eenvoudig gestel: daar was geen rede vir ʼn skerp patroon om in daardie .45 Colt, of enige plek op die Rust-stel, te wees nie. Die teenwoordigheid van ʼn patroon in ʼn rewolwer het ʼn dodelike bedreiging vir almal in die nabyheid ingehou,” lui die stukke wat by ʼn Los Angeles-hof ingedien is.

Baldwin, die assistentregisseur, Dave Halls, asook Gutierrez-Reed, het nie die bedryfspraktyk gevolg oor die hantering van wapens nie en het “toegelaat dat ʼn rewolwer met skerp patrone op lewende mense gerig word”, lui die hofstukke voorts.

Hutchins is doodgeskiet terwyl Baldwin ʼn kleedrepetisie vir ʼn toneel in die Western-fliek gedoen het waarin hy ʼn vuurwapen op die kamera rig. Halls het die vuurwapen aan Baldwin oorhandig, verklaar dat dit “koud” is – ʼn bedryfsterm dat dit skadeloos is. Halls het later aan ondersoekers gesê hy het die wapen nie behoorlik nagegaan nie.

Die koeël het deur Hutchins se liggaam getrek en het regisseur Joel Souza in die skouer getref.

Svetnoy, wat saam met Hutchins aan verskeie ander rolprente gewerk het, voer aan hy was naby toe Baldwin die skoot op 21 Oktober afgevuur het. Hy het ʼn “vreemde en vreesaanjaende suising” gehoor toe die koeël verby hom trek en kruit het hom in die gesig getref.

‘n Foto verskaf deur Dordick Law Corporation, met Serge Svetnoy en Halyna Hutchins op die stel van Rust. (Foto: Serge Svetnoy/AFP)

Die hofstukke beskryf hoe hy inderhaas sy vriendin probeer help het, terwyl sy sterwend op die grond gelê het.

“Terwyl hy haar vasgehou het, het hy het besef die hand wat hy agter haar rug gehou het, word nat van haar bloed.

“Die volgende 20 na 30 minute het gevoel soos die langste in sy lewe terwyl hy me. Hutchins probeer help en vertroos het. Hy het hulpeloos toegekyk terwyl sy haar bewussyn begin verloor het.”

As die rolprent se wapenbewaarder, was die 24-jarige Gutierrez-Reed aanspreeklik vir vuurwapens en ammunisie. In ʼn verklaring wat haar regspan Woensdag uitgereik het, hou hulle vol sy weet nie waarom daar ʼn skerp patroon op die stel was nie.

“Ons vra vir ʼn omvattende en volledige ondersoek van al die feite, ook oor die skerp patrone, hoe dit in die fop-boks beland het en wie dit daar ingesit het,” sê Jason Bowles, Gutierrez-Reed se prokureur.

Bowles sê Gutierrez-Reed het weer met ondersoekers van die Santa Fe-sheriff vergader en het aangebied om “bykomende, kritieke inligting” met hulle te deel.

Die Bonanza Creek Ranch waar die 19de-eeuse Wilde Weste-fliek Rust verfilm is. (Foto: Patrick T. FALLON / AFP)

Mary Carmack-Altwies, staatsaanklaer van Santa Fe, het in ʼn onderhoud wat Woensdagaand met haar gedoen is, enige bewering van ʼn sameswering verwerp. “Ons het geen bewyse nie,” het sy aan ABC News gesê.

Carmack-Altwies het vantevore geweier om enige strafregtelike aanklagte oor die voorval summier te verwerp en dit het oproepe tot gevolg gehad waarin gevra word dat wapens wat in ʼn werkende toestand is op rolprentstelle verbied word.

Baldwin het voorgestel dat polisiebeamptes teenwoordig is op rolprentstelle waar wapens gebruik word. Hy het die tragedie as ʼn “een in ʼn triljoen-voorval” bestempel en volgehou dat Rust ʼn goed geoliede span het.

Berigte het egter sedert die skietery aan die lig gekom oor ontevredenheid onder werkers oor beweerde lakse veiligheidsmaatreëls. Die sheriff van Santa Fe, Adan Mendoza, het hom ook al uitgelaat oor oorgerustheid op die Nieu-Mexiko-stel.

Mendoza het vantevore gesê sy beamptes het beslag gelê op meer as 500 patrone op die stel, wat vermoedelik ʼn mengsel van loskruit, foppatrone – maar vermoedelik ook skerp ammunisie – bevat het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Frank John ·

Ek glo dat elke mens wat ‘n wapen moet rig op ander dit eers moet ondersoek en beveilig ongeag wat iemand jou sê dat dit veilig is. Geld en wapens is die twee goed wat jy ander nie mee vertrou nie, net jouself as jy in jou self betroubaar is.

Pieter9 ·

Jammer oor die lewensverlies; geen simpatie met Boldwin nie – hy het homself gate uit geniet met die karakter-moord op Pres. Trump… Nou dat die leuens otbloot word is daar stilte… Boldwin sal seker nou ‘n bietjie besig gehou word.

Aai ·

Goue reel maak nie saak of op stel of waarookal en wie ookal wat jou se as dit kom by ‘n wapen gaan hom self na,nadat iemand hom vir jou gegee het al se hy veilig.

Johan ·

Dis baie tragies….vuilspel of net grof nalatig? Ek verstaan wel dat veral met revolvers hul soms skerpunt gebruik vir naby afneem (skote klink nie reg nie) omdat die voorkant van die ammunisie van voor gesien kan word in die rol van die revolver. Dit lyk dus snaaks as die revolver vop patrone in die rol het of leeg gelos word (wat ek wel al gesien het in vlieks).

Mariaan ·

Uiters nalatig gewees!! Eintlik skokkend nalatig…die laaier en die skieter moes SEKER gemaak het. Nou is n vrou en mamma dood….nee nee nee….ek hou van Alec as akteur…maar ongelukkig vir n klomp slim mense saam was hierdie baie “dom”

N

annie ·

Dit is nou Baldwin se storie. Dit was tussen skote. En toe is is daar ‘n skoot. Was die twee wat raakgeskiet is, bewus van sy plan om te oefen en toe hul rus opgeoffer vir hom. Hierdie spul klink meer na Baldwin wat grootdoenerig wou wees en toe vang slim sy baas. Baie mense was nog nie op ‘n filmstel nie en Baldwin hoop die gereg glo hom. Tydens verfilming is akteurs bloot deel van die span en nie super-dupers soos in die buitelewe nie. Baldwin wou dalk die reëls effe wysig.

MPI ·

Hoekom ‘n regte gelaaide vuurwapen op stel. Jy kry vandag namaaksels wat nes ‘n regte vuurwapen lyk.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.