Baldwin-skietvoorval: Assistentregisseur glo voorheen oor ‘veiligheid’ afgedank

Die skietvoorval waarby die akteur Alec Baldwin betrokke was, het op die stel van die rolprent “Rust” gebeur. (Foto: Angela Weiss/AFP)

Die assistentregisseur wat ʼn gelaaide vuurwapen op die stel van die rolprent, Rust, aan die akteur Alec Baldwin oorhandig het, is glo voorheen weens die verontagsaming van veiligheidsprotokol oor die hantering van wapens afgedank.

Maroela Media het vroeër berig dat Baldwin Donderdag ʼn vuurwapen op die rolprentstel in Nieu-Mexiko afgevuur en die kinematograaf Halyna Hutchins noodlottig gewond het. Joel Souza, die regisseur, is ook in die voorval gewond.

Kort voor Hutchins se skietdood het Dave Halls glo aan Baldwin bevestig dat die wapen veilig is.

Hy het glo die term “cold gun” gebruik om die status van die vuurwapen as veilig aan te dui.

Volgens ʼn anonieme bron is dieselfde wapen en skerp ammunisie glo vroeër die dag deur lede van die rolprentstel tydens ʼn teikenskietoefening gebruik.

Die vervaardigers van Rust het egter nog nie op AFP se navrae daaroor gereageer nie.

AFP berig Halls het in 2019 die trekpas op die stel van die rolprent Freedom’s Path gekry nadat ʼn lid van die rolprentspan lig beseer is toe ʼn vuurwapen onverwags afgevuur is. Dié rolprent is nog nie bekendgestel nie.

Halls is glo onmiddellik ná die afvuur van die wapen van die stel verwyder. Verfilming is eers hervat nadat Halls die perseel verlaat het.

CNN berig talle klagtes is ook in 2019 teen Halls op die stel van die Hulu-reeks Into the Dark ingebring weens sy “verontagsaming van veiligheidsprotokol ten opsigte van wapens en vuurwerke”.

In die lig van Hutchins se dood het die fokus egter nie net op Halls nie, maar ook op wapenbewaarder Hanna Gutierrez-Reed (24), geval.

ʼn Wapenbewaarder moet verseker wapens op die stel word veilig gestoor, moet ten alle tye weet waar die wapens is en moet verseker dat dit toegesluit word wanneer dit nie gebruik word nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

...M... ·

Hoekom hulle in vandag se tyd nog regte wapens moet gebruik gaan my verstand te bowe!
Daar is baie maniere om ‘n “wapen” te maak wat regtig lyk en voel…

En dan speel hulle nog met die wapen ook voordat hulle hom gebuik vir die film…..

VaalDonkie ·

Dit raak beter as mens na sy vorige uitlatings oor vuurwapens kyk.

Robert ·

Beskou enige wapen as gelaai en maak seker, maak nie saak wat die ander persoon jou vertel nie.

annie ·

Baldwin is steeds ‘n vername klein seuntjie wat ook van die stel af almal wil wys wie is baas. Waarom ‘n wapen op iemand rig? En hy het geweet daar is wel regte wapens. Nou moet assistente die pyn vat. Wat soek die akteur tussen die wapens?

Willem ·

Volgens ander bronne is daar ‘n hele protokol wat gevolg moet word. Daar is meer as een persoon wat moet verseker dat die wapen veilig is maar die laaste persoon in die lyn is die akteur. Ek is geleer dat dit my plig is om te verseker ‘n wapen is veilig die oomblik wat dit in my hande beland. Al het iemand anders voor my oë daardie wapen nagegaan gaan ek dit wéér na sodra dit aan my oorhandig word. Maar nou ja – dis maar net ons, die geweermal plaasjapies wat sulke dinge doen!

Johan ·

Was die vent nie ook ń anti- Trumper nie? Ek hoop hul sluit hom toe!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.