Baldwin was sy hande in onskuld

Alec Baldwin (Foto: Mark Sagliocco / GETTY IMAGES NORTH AMERICA)

Die eggenoot van Halyna Hutchins, wat verlede jaar op die stel van die Amerikaanse rolprent Rust doodgeskiet is, sê hy was woedend toe Alec Baldwin onlangs gedurende ’n onderhoud geweier het om enige verantwoordelikheid vir haar dood te aanvaar.

Dié akteur het die “cold gun” (ongelaaide wapen, dus sonder ammunisie) vasgehou toe ’n skoot op 21 Oktober gedurende ’n kleedrepetisie op stel in Nieu-Mexiko afgegaan en Halyna getref het.

“Die idee dat die persoon wat die vuurwapen vashou en dit afvuur, nie verantwoordelik is nie, is vir my absurd,” sê Matt Hutchins in ’n onlangse onderhoud met NBC se Today-program.

Hutchins het verlede week Baldwin en ander vervaardigers van Rust gedagvaar. Dié wewenaar eis skadevergoeding vir sy vrou se onregmatige dood.

“Geweerveiligheid was nie die enigste probleem op daardie stel nie,” meen Hutchins. “Daar was ’n aantal bedryfstandaarde wat nie toegepas is nie en daar is verskeie verantwoordelike partye.”

(Foto: Sam Wasson/Getty Images/AFP)

Baldwin hou vol daar is op die dag van die noodlottige skietery aan hom gesê dat die vuurwapen geen skerp ammunisie bevat nie. Volgens die akteur het Halyna, ’n kinematograaf, hom aangesê om die vuurwapen in haar rigting te rig en het hy nié die sneller getrek nie.

Baldwin het in Desember ook aan ABC gesê hy voel nie skuldig oor Halyna se dood nie. “Ek voel iemand is verantwoordelik vir wat gebeur het en ek kan nie sê wie dit is nie. Maar ek weet dit is nie ek nie,” was Baldwin se woorde.

“Ek het net so kwaad gevoel toe ek na hom gekyk het,” sê Hutchins nou.

“Ek was net so kwaad om te sien hoe hy so in die openbaar, tot in die fynste besonderhede, oor haar dood praat, en dan geen verantwoordelikheid aanvaar kort nadat hy beskryf het hoe hy haar vermoor het nie.”

Hutchins se prokureur het vroeër tydens ’n nuuskonferensie beweer dat “roekelose gedrag en kostebesnoeiingsmaatreëls” tot Halyna se dood gelei het.

Lees al Maroela Media se berigte oor die noodlottige skietery op die stel van Rust hier.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

15 Kommentare

jongste oudste gewildste
annie

… Biden sê ok so… Ek het nie die oorlog begin nie… Iemand het, maar dit is nie ek nie… Sowaar…

Blikkies

My persoonlike opinie. Ek dink nie Baldwin kan verantwoordbaar gehou word nie. Ek beskou dit as ‘n tragiese ongeluk. Wie ook al in beheer was van die wapens moet verduidelik. Ek vra eerder hoekom hulle lewendige ammunisie op ‘n rolprent stel moet gebruik? Of mis ek iets?

Danny

Wie op stel se verantwoordelikheid is dit om die tipe ‘props’ na te gaan? DAAI persoon moet verantwoordelik gehou word, sy/haar werk was klaarblyklik nie op standaard nie!

Andre

Pateties, jy het haar geskiet. Punt!

Autobahn

Hollywood het oordrywend baie skiettonele in flieks en sellibreer die doodskiet van mense. Die Amerikaanse filmbedryf is in werklikheid die grootste liefhebbers van wapens op die planeet.