Indonesië het Woensdag die internasionale lughawe op Bali gesluit toe die vulkaan op Berg Barujari uitgebars het.
Owerhede het gesê die Ngurah Rai-lughawe word gesluit weens die as in die lug.
Julius Barata, woordvoerder van die ministerie van vervoer, het gesê die lughawe sal na verwagting eers Donderdag oopmaak. “Vulkaniese stof, selfs al is dit onsigbaar, is baie gevaarlik vir vliegtuie,” het hy gesê.
Twee kleiner lughawens in Banyuwangi op Java-eiland en Lombok is ook gesluit.
Bali se lughawe is in Augustus gesluit toe Berg Raung op Java-eiland uitgebars het.
Barujari spoeg al sedert Sondag as, maar owerhede het gesê die vulkaan se waarskuwingsvlak bly een vlak bó normaal. Inwoners word gemaan om minstens 3 km van die berg af te bly.