Bali-tasmoordenaar dalk vroeër uit tronk

Heather Mack (25) en haar kêrel, Tommy Schaefer, het Mack se ma vermoor (Foto: Sonny Tumbelaka, AFP)

ʼn Amerikaanse vrou wat ses jaar gelede saam met haar kêrel skuldig bevind is aan die moord op haar ma kan dalk vroeër uit die tronk vrygelaat word.

Heather Mack (25) en haar kêrel, Tommy Schaefer, het Mack se ma, Sheila von Wiese Mack (62), in 2014 in St. Regis, ʼn vyfsteroord in Bali, Indonesië, vermoor en haar liggaam in ʼn tas gestop.

Schaefer het Von Wiese Mack tydens ʼn hewige rusie tussen hulle met ʼn vrugtebak doodgeslaan. Die paartjie het daarna Von Wiese Mack se liggaam in ʼn tas gedruk en in ʼn taxi gesit.

Von Wiese Mack se erg gekneusde liggaam is later in die taxi – net buitekant die hotel waar die moord gepleeg is – ontdek.

Die paartjie het na ʼn ander deel van Bali gevlug, waar die polisie hulle later in hegtenis geneem het.

Mack is ʼn gevangenisstraf van tien jaar opgelê terwyl Schaefer tot 18 jaar tronkstraf gevonnis is. Mack was ten tyde van die misdaad swanger.

Schaefer het tydens sy verhoor die moord erken, maar beweer dat hy homself probeer verdedig het tydens ʼn stryery met Von Wiese Mack. Hy het aangevoer sy was ongelukkig oor Mack se swangerskap.

Aanklaers beweer dat Schaefer Von Wiese Mack uit woede blindelings met die vrugtebak geslaan het nadat sy ʼn rassistiese aanmerking oor hom gemaak het. Schaefer is swart.

Terwyl Schaefer vir Von Wiese Mack vermoor het, het Mack in die badkamer weggekruip. Mack is minder jare tronkstraf opgelê omdat sy net ná die moord hand bygesit het om van die liggaam ontslae te raak.

Mack kan weens goeie gedrag in Oktober uit die Kerobokan-gevangenis in Bali vrygelaat word. Dit is drie jaar vroeër as wat sy oorspronklik vrygelaat sou word. Sy sal ná haar vrylating teruggestuur word na Amerika.

Volgens Mack se regsverteenwoordiger, Yulius Benyamin Seran, sou sy verkies om in Indonesië te bly om by haar sesjarige dogter, wat in ʼn pleeghuis in Bali grootgemaak is, te bly.

“Sy wil nie hê dat haar dogter na Amerika teruggestuur en dan deur die media geteister word nie,” het Seran gesê.

Indonesiese gevangenisbeamptes wou nie kommentaar lewer oor Mack se vrylating nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Frank John ·

Dis soos Kain en Abel. Nie gelukkig oor die ander een, slaan dood. Mensdom nog dieselfde

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.