Bangladesj-aanval: Minstens 20 gyselaars sterf

Bangladesjiese magte by die restaurant in Dhaka waar swaar gewapende militante talle persone Vrydagaand by 'n luukse restaurant as gyselaars gehou het (1 Julie 2016) Foto: AP Photo

Bangladesjiese magte by die restaurant in Dhaka waar swaar gewapende militante talle persone Vrydagaand by ‘n luukse restaurant as gyselaars gehou het (1 Julie 2016) Foto: AP Photo

ʼn Weermagbeampte het Saterdag gesê minstens 20 gyselaars is dood tydens die aanval op ʼn restaurant in Dhaka, Bangladesj, waar swaar gewapende militante talle persone as gyselaars gehou het.

Nayeem Ashfaq Chowdhury het gesê ses van die aanvallers is dood tydens die reddingsoperasie vroeg Saterdagoggend.

Maroela Media het vroeër berig 13 gyselaars, waaronder uitlanders, is gered.

Twee polisiebeamptes is dood toe die aanvallers die gewilde restaurant bestorm en begin losbrand het.

Chowdhury het nie die identiteit van die gyselaars bekend gemaak nie.

Soldate wat aan die reddingsoperasie deelgeneem het, het beslag gelê op ploftoestelle en skerp wapens op die toneel, het hy gesê.

Die Islamitiese Staat (Isis) het verantwoordelikheid aanvaar vir die aanval op die Holey Artisan-bakkery, aldus die SITE-intelligensiegroep.

Sheikh Hasina, eerste minister, het die aanval veroordeel. Sy het gesê sekuriteitsbeamptes het een van die militante in hegtenis geneem. “Enigiemand wat in godsdiens glo, kan nie só iets doen nie. Hulle het nie enige geloof nie, hulle godsdiens is terrorisme.”

Koichi Hagiuda, woordvoerder van die Japannese regering, het gesê ʼn Japannese gyselaar is gered, maar hulle kan nog nie rekenskap gee vir sewe ander Japannese nie. Die agt persone was saam by die restaurant. Die persoon wat gered is, is geskiet en ontvang behandeling. Hagiuda kon nie verdere besonderhede oor sy toestand bekend maak nie, maar het gesê die man kan praat. Die agt persone was van verskillende maatskappye wat by dieselfde projek betrokke is.

Die eienaar van die restaurant het gesê hy kon nog nie met sy personeellede kommunikeer nie. Nasirul Alam Porag was in Bangkok toe hy van die aanval te hore gekom het. “Tot vyf minute gelede het ek nog niks geweet nie. Daar is niemand met wie ons kan praat nie, nie eers die personeel nie,” het hy aan die Associated Press gesê.

Volgens Porag werk ongeveer 50 persone vir die restaurant, maar slegs 20 was teenwoordig tydens die aanval.

Die restaurant, wat in die diplomatieke sone geleë is en gewild is onder uitlanders, het twee jaar gelede sy deure oopgemaak. Porag is een van drie eienaars. Hulle het besluit om ʼn nuwe tak in Bangkok oop te maak, wat hy bestuur.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.