Bankhoof geskors ná uitlatings oor klimaatsverandering

Foto bloot ter illustrasie. (William Bossen / Unsplashed)

Die HSBC-bank in Londen, Brittanje, het sy hoof van verantwoordelike beleggings geskors nadat hy waarskuwings oor klimaatsverandering tydens ’n voorlegging oor die onderwerp as “onbelangrik” bestempel het.

Stuart Kirk het die betrokke voorlegging, Waarom beleggers nie oor klimaatsrisiko’s bekommerd moet wees nie, tydens die Moral Money-konferensie gemaak wat verlede week deur die nuusplatform Financial Times aangebied is.

Kirk het in sy voorlegging glo uitlatings soos “wie gee om?” gemaak en gesê “daar is altyd die een of ander swaap wat my meer oor die einde van die wêreld vertel”. Hy het glo ook skyfies gewys wat waarskuwings oor klimaatsverandering as “ongegrond, skril, partydig, selfdienend en apokalipties” afmaak en gesê dat dié soort waarskuwings “altyd verkeerd” is.

Daar word beweer dat Kirk ook amptenare van die Verenigde Nasies en die Bank van Engeland daarvan beskuldig het dat hulle die finansiële risiko’s van klimaatsverandering “oorbeklemtoon”.

“Wie gee om as Miami oor 100 jaar ses meter onder die water is? Amsterdam is al eeue lank ses meter onder die water en dit is ’n lieflike plek,” het hy luidens ’n berig deur Financial Times gesê.

Die bank wou nie bevestig of Kirk wel geskors is nie, maar het wel op die sakeplatform LinkedIn gesê dat die opmerkings nie met HSBC se strategie strook of die siening van die senior bestuur weerspieël nie.

“Ons doelwit is om die voorste bank te wees wat die globale ekonomie in die oorgang na ’n groen ekonomie ondersteun.”

HSBC en sy eweknieë het die afgelope tyd onder hewige druk van aktivistegroepe gebuk gegaan oor hul voortgesette finansiering van projekte wat as skadelik vir die omgewing beskou word, soos die ontginning van fossielbrandstof.

“Beleggers en kliënte moet tereg die bank se beloftes oor klimaatsverandering bevraagteken en ondersoek, waaronder sy olie- en gasbeleid, wat binnekort bekend gemaak word,” het Beau O’Sullivan, senior kampvegter by die aktivistegroep Bank on our Future, in ’n verklaring gesê.

Kirk sal na bewering geskors bly terwyl die bank die voorval ondersoek.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

Vrijburger ·

Mmmm natuurlik geen reg tot vryheid van spraak, kritiese denke ens as jy nie met hoofstroom media en die linkses se narratief saam stem nie.

Hennie Biebouw ·

“Vryheid van spraak” is nie van toepassing as jy in die hoedanigheid van jou werkgewer se verteenwoordiger optree nie. Dis regtigwaar korporatiewe common sense 101. Hy moes sy toespraak met sy werkgewer bespreek het voor hy dit gelewer het.

Burgermeester ·

Die samelewing het al so verander, dat jy deesdae jou woorde mooi moet tel voordat jy jou eie opinie opper.

Johann101 ·

Ek stem saam met daai man… die “klimaatsveranderinge” wat ons nou sien is mens gemaak… Al gehoor van cloud seeding, google dit en sien watter land het al in die 90’s die tegniek ontwikkel…

Marius ·

Dis ‘n bewys dat die mensdom se vryheid klaar tot niet is.

Koen ·

“Wie se brood jy eet, die se woord jy spreek.” of so iets….????

Hennie ·

Niemand kan mnr Schwab se sienings teen gaan nie, hoe gaan hulle dan die sdg implimenteer??

Johan ·

En so begin die volgende propaganda veltog na die weste se volgende “krisis”. Net vanoggend op PTA FM gehoor hoe bou Heinrich die propaganda versigtig in sy berig. Hou maar dop, vleis beperkings is ook op pad, alles in die naam van die nuwe krisis.

Janee ·

Ag wel…global warming sou eers in 2050 begin het soos wat ek as jongeling destyds onthou het. Nou is ons te midde van alles en steeds is daar die ontkenning. En die ellende van droogtes, oorstromings, pessiektes en dies meer lê om ons enkels….

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.