Banksy-skildery vernietig self net ná veiling

Die skildery in die middel van die verwoesting (Foto: Banksy/Instagram)

Dis miskien Banksy se mees gewaagde poets ooit. Een van sy bekendste werke het outomaties vernietig net ná dit vir meer as £1 miljoen op ʼn veiling verkoop is.

“Girl With Balloon” was Vrydagaand die laaste item op ʼn veiling by Sotheby’s in Londen en is vir £1.04 miljoen (meer as R20 miljoen) verkoop. Kort ná die afslaer die bod toegeken het, het die skildery egter deur ʼn versnipper begin beweeg wat in die raam geïnstalleer was.

Banksy het ʼn foto van die versnipperde kunswerk wat onder uit die raam hang op Instagram gedeel met die titel “Going, going, gone…”

“Ons is sopas geBanksy,” het Alex Branczik, senior direkteur van Sotheby’s, gesê. Hy het bygevoeg die afslaers het nie geweet dit gaan gebeur nie. “Ons het ʼn bietjie van Banksy se genialiteit vanaand gesien.”

Banksy se “Girl With Balloon” (Foto: Sotheby’s)

Banksy het Saterdagaand ʼn video op sy Instagram-profiel gelaai waar ʼn versnipper in ʼn raam geïnstalleer word. “Ek het ʼn paar jaar gelede skelm ʼn versnipper in ʼn skildery ingebou, vir ingeval dit ooit onder die hamer sou kom.”

Daar is gerugte dat Banksy dalk self by die veiling was om die verwoesting te aanskou.

Sotheby’s wou nie die anonieme koper se naam bekend maak nie. Die koper is egter nou moontlik beter daaraan toe: die omstredenheid rondom die verwoesting sal die skildery waarskynlik nou meer waardevol maak.

“Girl With Balloon”, wat verlede jaar aangewys is as die “mees geliefde kunswerk” in die Verenigde Koninkryk, het vir die eerste keer op ʼn muur in Great Eastern-straat in Shoreditch, in die ooste van Londen verskyn. Die galeryweergawe in 2006 het spuitverf en akriel bevat.

Ondanks bespiegelinge is die ware identiteit van die kunstenaar, wat in Bristol gebore is, nog nooit amptelik bekend gemaak nie. Hy het bekendheid verwerf toe sy Graffiti op geboue oor die Verenigde Koninkryk heen verskyn het – gewoonlik met ‘n satiriese boodskap.

https://www.instagram.com/p/BomXijJhArX/

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

15 Kommentare

Nel ·

Soos hulle sê -the mind boggles…
Wat Picasso aanbetref – die mees oorskatte kunstenaar van die 20ste eeu. Goeie bemarker, maar dis waar dit stop.

Marianne ·

Nou HOE het hierdie skildery geweet hy is op ‘n veiling? Het iemand in die gehoor gesit met ‘n remote om die aksie te begin??? Kan iemand dit verduidelik asseblief?

Johann cb ·

Wow, baie dramaties!

Net soos die einde van die berig…

Oulik…

ben ·

My ouma het baaaaie jare terug vir my gesê.
“My kind. Moet nie alles glo wat jy sien , of hoor nie.”

Nel ·

“Banksy reveals how he did it
But just after the gavel went down, an alarm reportedly went off inside the frame, reports the Financial Times.
The frame, which was also made by Banksy, contained a shredder which began cutting the art into strips as patrons looked around in both awe and confusion.”

Hehehehe daar het julle dit nou.

André ·

Goeiedag Maroela Media

Die sin het ‘n spelfout:
“Daar is gerugte dat Banksy dalk self by die *veilig was…”.

Dit moet ‘veiling’ wees.

Groete
André

Landi Slatter ·

Dagsê André

Baie dankie vir jou kommentaar! Ons vra om verskoning vir die oorsig, die berig is reeds gewysig.

Groetnis
Landi nms Maroela Media

Basjan ·

Verskoon my . Ek het standerd 5 twee keer gemaak en toe vat hulle dit vir matriek. Hoe kan die skildery “meer waarsevol” wees nadat dit versnipper is? Kan iemand dit vir my mooi en stadig verduidelik, asseblief?

Mickey ·

Mense wat geld het om miljoene op kunswerk te spandeer hou sekerlik maar van lawwe dinge. Daar het nou iets met die kunsstuk gebeur en nou wil almal dit hê…dit is maar hoekom ek sou dink dat die stuk dalk nou eers populêr sal wees.

Nettie ·

Hoe kan die skildery meer waardevol wees as ……………. dit nie meer bestaan nie?????????? Of is die snippers van die skildery nou baie meer waardevol as die skildery self?

Basjan ·

Nettie, dit is my vraag ook. Niemand het nog ‘n duidelike antwoord daarop gegee nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.